Nog 'n Piet Grobler en Philip de Vos-juweel


Die spree met foete

Afrikaanse verwerkings van Annie M. G. Schmidt- verse

Philip de Vos en Piet Grobler

Human & Rousseau: 2002

ISBN: 0-7981-4234-0

Prys: R69.95

Die spree met foete is 'n versameling Afrikaans- verwerkte verse uit die Nederlandse skrywer van kabaret, kinderverse en stories, Annie M.G. Schmidt, se bundel, Ziezo.

Philip de Vos se voorliefde en talent vir die skryf van nonsensverse is hoofsaaklik deur die werk van Annie M.G. Schmidt geïnspireer. Hierdie Afrikaanse verwerkings, tesame met Piet Grobler se fantasieryke illustrasies open vir Suid Afrikaanse lesers 'n deur op die werk van een van Nederland se mees geliefde skrywers van kinderverse. Lesers van alle ouderdomme gaan Philip de Vos se vertaling en Piet Grobler se ewe vermaaklike illustrasies in Die spree met foete verslind. Begin sommer dadelik by "Die mislukte fee", die vers waaruit die boek se titel afgelei is!

Philip de Vos se talente sluit sang en fotografie in, maar hy het veral bekend geword vir sy nonsensverse, limerieke en kinderstories. Verskeie pryse is al aan horn toegeken, waaronder die Eugene Marais Prys in 1989, 'n ATKV Prys in 1991, die MER Prys in 1996 en die Alba Bouwer Prys. Sy boek Wolfgang Amadeus Mouse is in 1986 gekies vir die International White Ravens Collection. Sedert 1996 skryf hy (en illustreer Piet Grobler) die gewilde strokiesprente in De Kat en nou in Insig. Hy het al meer as 40 titels gepubliseer: Moenie 'n mielie kielie nie, Karnaval van die diere, en Beware of the Canary om maar 'n paar bekendes te noem. Philip woon in Groenpunt, Kaapstad.

Piet Grobler se uitsonderlike talent as illustreerder en kunstenaar het reeds plaaslik sowel as oorsee roem verwerf. Hy het al meer as 50 boeke geïllustreer en sy werk word regoor die wêreld uitgestal. Sy illustrasies vergesel sedert 1996 Philip de Vos se agterblad-verse in De Kat en Insig. Piet het reeds vyf groot toekennings, waaronder 3 intemasionale pryse, verower. Hy woon in Stellenbosch.


Untitled-1.GIF (697 bytes)
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Nuwe boeke
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Afrikaanse kinderliteratuur