| Groete van die
Hiëna deur Leon de Villiers. Tafelberg, 2000. ISBN 0 624 03807 6 |
||
| Daar is kinder- en jeugboekkenners wat meen dat die jeug nie onderskat moet word en dat alle jongmense nie gelykgestel moet word nie. Hulle glo dat die jeug boeke verdien wat nie voorspelbaar is en volgens n patroon geskryf is nie; dat jongmense boeke verdien wat hulle n bietjie kan laat dink en met ander oë na die wêreld kan laat kyk; dat woorde soos "hoogstaande estetiese en literêre gehalte" nie n vloekwoord is wanneer dit by kinder- en jeugboeke kom nie.
Binne orde is daar chaos maar Roek moet dit self vind. Hy moet homself eers aanvaar voordat hy aanvaarding kan kry by die mense rondom hom. Dit neem hom deur fases van selfbejammering, vrees, agressie, selfondersoek en uiteindelik selfaanvaarding. Hy word letterlik gestroop (hy verloor met elke hoofstuk nog n kledingstuk totdat hy uiteindelik kaal is), en staan uiteindelik net voor homself en die keuses wat hy gaan maak. Daar is heerlike aweregse humor in die verhaal, maar nie almal gaan dit geniet nie en nie alle volwassenes gaan dit verstaan nie - veral nie dié wat net saam met die stroom praat en dink nie en glo dat jongmense net boeke kan geniet oor bekende situasies en dinge wat hulle kan laat lag en goed voel. Gelukkig is daar genoeg jongmense wat oopkop genoeg is om die boek te waardeer. n Mens hoop net die boeke bereik hulle. (Magdel Vorster en TvdW) Hierdie resensie het voorheen in gewysigde vorm in Beeld verskyn
|