Aliens en engele deur Leon de Villiers

Tafelberg, 1996
ISBN: 0 624 03529 8

Pieter is tien en hy’s stout. Hy druk al nege knoppies in die hysbak wanneer hy by Neptunus uitstap, sodat die ruimtetuig by elk van die nege planete moet stilhou.

Pieter sien niks verkeerd hiermee nie. Hy moet sy eie wêreld skep, aangesien sy ma en dié se nuwe vriend, selfs sy pa en sy nuwe vriendin, hom so vreemd aanspreek dat hy hulle aangaap. Volwassenes se gesprekke is snaaks en hulle praat met hom asof hy ‘n babatjie is. Sy verwagtinge van avontuur, soos die huis wat lyk of dit ‘n ‘n ruimteskip behoort te wees, word telkens deur die werklikheid verydel.

Dan raak dinge ernstig, want in hierdie kamma-vrolike vertelling begin die leser besef daar’s groot fout met die arme kind. Hy loop in sy slaap en doen vreeslike skade.

Die lekkerlees verhaal van ‘n seuntjie wat emosioneel so verwaarloos word dat hy ander mense as aliens sien, bereik ‘n krisis wanneer hy wegloop - na sy straatvriendjie, Toffie. Maar dié is so deur sy pa geslaan dat hy glad nie kan help nie, en Pieter gaan skuil in ‘n kerk.

Hier kry Oom Niel hom - die enigste grootmens wat hy vetrou (die een wat wat op Pluto woon, in dieselfde woonstelgebou as hy). En Niel vertel hom van aliens en dat Pieter eintlik ‘n engel is.

Dié eerste roman van Leon de Villiers is ‘n juweel. Die loslit taal vloei glad, en kieliesnaakse tonele en verbeeldingsvlugte getuig van ‘n skrywer wat kidners en hulle denkwyses en taal goed ken.

Lees dit voor aan kinders bo tien, en hou die boek tot jong tieners dit self kan lees.

Madeleine Roux. Resensie gepubliseer in Die Burger, 26 Februarie 1997, p.12

pyl1.GIF (436 bytes)Terug na Resensies en Besprekings
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na Afrikaanse Kinderliteratuur
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur Tuisblad