Piet Grobler |
| Petrus Grobler is op 26 September 1959 op Nylstroom in die Noordelike Provinsie gebore. Hy word groot op 'n plaas in die Warmbadomgewing en ontvang sy skoolopleiding aan die Lehau Laerskool en Warmbad Hoërskool waar hy in 1977 matrikuleer. Hierna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 1981 die BA- en in 1984 die BD-graad behaal. In 1984 word hy predikant in die Hervormde Kerk en in 1987 verhuis hy en sy vrou, Griet, na die Wes-Kaap waar hy aanvanklik in die Paarl in die bediening staan. |
| In 1989 tree Piet uit die bediening en
in 1990 behaal hy 'n Honneursgraad in Joernalistiek aan die Universiteit
van Stellenbosch. Hy word hierna grafiese ontwerper by Sanlam se
advertensie- en publikasie-afdeling. Intussen studeer hy verder in
grafiese ontwerp en behaal in 1993 die N6 Diploma in Grafiese Ontwerp aan
die Kaapstadse Tegniese Kollege. Sedert 1996 is Piet 'n vryskut kunstenaar.
Hy is 'n lid van die WIG-groep illustreerders in
Kaapstad. Hy gee gereeld lesings en praatjies met skyfies by leeskringe.
Die afgelope paar jaar het hy byvoorbeeld in Stellenbosch, Bonnievale,
Paarl, Windhoek en Pretoria opgetree. In 1999 het hy by Aardklop Fees in
Potchefstroom opgetree en in 2001 was hy die feeskunstenaar by die Klein
Karoo Kunstefees in Oudtshoorn. Hy het ook al lesings gehou oor die
gebruik van visuele materiaal in grafiese ontwerp en koerant- en
tyskrifontwerp by die Departement Joernalistiek van die Universiteit van
Stellenbosch, Kaapse Technikon en by die Kongres van die SA Vereniging vir
Bedryfsredakteurs. In 2002 gee hy ‘n lesing, "Contemporary
African picture book illustration in relation to some international
stylistic tendencies" by die Conference on the Research and Study of
Children's Literature in Africa in Gaborone, Botswana. |
| Heelwat pryse is al aan sy werk vir kinders toegeken, onder andere die Silwer Medalje van die Noma Concours (Japan) in 1997 vir Hier is ek en weer in 2003 vir Sun canary, Moon canary! (ongepubliseerd); die Octogene de Chêne (Frankryk) in 1999 vir Karnaval van die diere; 'n brons medalje by TIBI, Iran in 1999 vir Karnaval van die diere; die Tienie Hollowaymedalje in 1997 vir Olinosters op die dak en die Primo Alpi Apuane (Italië) in 2000 vir Karnaval van die diere. | |
| Piet vertel dat hy vir kinders begin
skryf het toe hy nog predikant was. Dit was 'n reeks verhale, Janneman
en die kerkmuis wat tussen 1986 en 1989 in Die Hervormer
verskyn het. Hy het spesifiek probeer om "witty" en nie
moralisties te skryf nie.
Hy het eindelik uiting gegee aan sy lewenslange begeerte om prenteboeke vir kinders te illustreer, toe hy in 1989 ‘n reeks van 15 Bybelverhale vir Prisma Uitgewers kon illustreer. |
| In 1991 het boeke vir Juta Uitgewers gevolg toe hy deur Isabel Cilliers gevra is om werk te doen vir Juta Uitgewers se Econopret-reeks oor entrepreneurskap vir kinders. Hy het twee boeke in die reeks geskryf en self geïllustreer en een vir Philip de Vos geïllustreer. Dit was sy heel eerste projek saam met Philip. Meer boeke vir Juta het gevolg. Piet beskou Hier is ek as een van sy suksesvolste boeke, onder andere vanweë die Silwer Noma Prys wat dit gewen het. Maar die suksesvolste een is sekerlik Karnaval van die diere wat in Italiaans, Engels, Duits en Nederlands vertaal is en talle pryse gewen het. |
| Piet sê dat hy'n voorkeur het om
fantasie of humoristiese verse of verhale te illustreer, veral die mense
en diere daarin. Die llustrasie van realistiese avonture vind hy minder
lekker en hy verafsku die illustreer van tegniese en meganiese dinge!
Sy stokperdjies is tuinmaak, lees en reis. Dit is juis sy liefde vir lees en reis (en fliek) waardeur hy sy idees ontwikkel. Ook die tuinmaak en godsdiens het 'n groot invloed op sy illustrasiewerk, en so ook hy en sy vrou se liefde vir musiek en diere. |
| Hy het uitgebreid deur Europa gereis en uit sy pad gegaan om kunsmuseums en uitstallings oor illustrasies by te woon. Die blootstelling aan Europese illustrasies het sy horisonne en persepsie van die verskeidenheid media en style wat gebruik kan word wanneer hy beplan vir 'n bepaalde illustrasietaak, verbreed. Twee gebeurtenisse wat 'n groot invloed op hom gehad het, is die bywoning van 'n UNESCO - BIB werkswinkel in Slowakië en die Bologna Children's Book Fair in Italië. Hy maak prenteboeke bymekaar en het 'n groot versameling katalogi van kinderboekillustrasie-uitstallings van verskillende lande. Hierdie versameling laat hom toe om homself bloot te stel aan verskillende illustrasiestyle. |
![]() |
Hy is gefassineer deur die magiese
realisme, veral soos dit manifesteer in die Latyns-Amerikaanse literatuur.
Wat kinderliteratuur betref, het die kombinasie van Roald Dahl en Quentin
Blake as 'n rolmodel gedien vir wat hy skryf. Hy beskou Blake se
illustrasies as die perfekte skakel met Dahl se skryfwerk. Sy
gunstelingillustrasies word egter in hedendaagse Franse, Duitse en Spaanse
kinderboeke gevind. |
Religie het 'n groot invloed op sy werk.
"Ek hou van engele en beskermheiliges - ek is Prostestant maar vind
Rooms-Katolieke simbole en karakters baie aantreklik." Dit is dus nie
vreemd dat Piet dikwels engele en heiliges in sy illustrasies insluit nie
- selfs al word hulle nie in die teks vermeld nie. Sodoende dien dit
dikwels as 'n tipe subteks. Hy verkies om nie politieke kwessies direk in
sy boeke te betrek nie. "Boeke moet pret wees, nie preke nie. Ek
probeer om rasse en geslagte in gelykheid te laat kommunikeer deur
karakters en spesies (mense, engele, diere, ens) te meng en hulle te laat
optree, handel met mekaar en kommunikeer op gelyke vlak in dieselfde
storie of illustrasie. Dit sal, volgens my, meer oortuigend wees as
didaktiese en moralistiese stories en prente." Dit kan, aan die ander
kant, problematies wees, as 'n kinderboekskrywer of -illustreerder so
geobsesseerd is met poltiek-korrektheid dat die kinderboek wat hy of sy
skep, "bland en boring" is. Wat die Suid-Afrikaanse
kinderboekwêreld betref, het Piet 'n groot probleem met die dikwels
slegte bemarking deur uitgewers en boekverkopers. Dit grief hom verder dat
net 'n baie klein deel van die samelewing bekommerd is oor sofistikasie en
kwaliteit in kinderboeke.
Wat styl betref, is hy veelsydig met 'n baie goeie begrip vir humor en fantasie. Piet skilder ook (in olie, akriel en waterverf - ook met glasuur op keramiek) Om vir kinders te illustreer, lê die naaste aan sy hart. Die probleem is egter om in Suid-Afrika 'n lewe daaruit te maak. Die gevolg is dat hy ook ander illustrasiewerk moet doen, baie daarvan nie opwindend en interessant nie. ‘n Volledige lys van pryse en toekennings vir sy werk: Internasionaal - Silwer medalje: 1997, vir Here I am - Ann Walton - Aanmoedigingsprys: 1999, vir Karnaval van die diere - Philip de Vos - Aanmoedigingsprys; 2001, vir The Perfect Bride (ongepubliseer) - Piet Grobler - Silwer medalje: 2003, vir Sun canary, moon canary! (ongepubliser) - Piet Grobler Octogone De Chêne 1999 (Centre International D’Etudes en Litterature De La Jeunesse) France, vir Karnaval van die diere - Philip de Vos Brons medalje; Teheran International Biennale for Illustration 1999, Iran, vir Karnaval van die diere - Philip de Vos Primo Alpi Apuane; Italy 2000, vir Carnival degli Animale -Philip de Vos Nasionaal Tienie Holloway medalje vir Kinderliteratuur 1997 - SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Olinosters op die dak - Marita van der Vyver Tweede prys (1997) en ‘n sertifikaat (1998) Mondi paper Awards vir De Kat-strokies saam met Philip de Vos. Ontwerp en illustreer wenpublikasie in kompetisie vir jaarverslae aan personeel: SA Vereniging van Bedryfsredakteurs (1994) Baie van sy boeke is in ander tale beskikbaar. Piet is getroud met Griet, 'n musiekonderwyseres. Hulle het een dogter, Catharina. Hulle woon op Stellenbosch 'n Volledige lys van die kinderboeke deur Piet Grobler:
Jesus en sy vriende Reeks deur Biebie de Villiers (Prisma) Tannie Tollie moet my bad Die wêreld is vol horlosies Elke dag het ‘n naam Die verhaal van water 1990 Die Bybel vir kinders vertel - ‘n Reeks deur Thea Brink (Prisma) Rut en Samuel In die begin Jesus help en leer ons Jesus die kindervriend 1994 Albert, Lizzie en die tasrekenaar - Piet Grobler (Juta) Boontjie kry sy loontjie - Piet Grobler (Juta) Van rand en sent tot insolvent - Philip de Vos (Juta) We all draw - Reviva Schermbrucker (Juta) (ook in Afrikaans) Kom kyk my monsters - Annatjie Hanekom (Juta) (Ook in Engels)
Ouma Hester en die Zeppelin - Janie Oosthuysen (Human & Rousseau) Ook in Engels) Ouma Hester en die getaway kar - (Human & Rousseau) (Ook in Engels) Juffrou Luisenbosch en die breinwassers - Janie Oosthuysen (Human & Rousseau) (Ook in Engels) Rus vir die hele aarde - Ernst Conradie (Lux Verbi) Staan uit die water uit! - Karel Benjamin (Kwela) Here I am - Ann Walton (Juta) (Ook in Afrikaans, Duits, Deens) 1997 Okra the proud cat - Abduram Asirifi (Sunbird - All good books, Ghana) How dog came to live with man - Abduram Asirifi (Sunbird - All good books, Ghana) Die geheim van Katjiepoetstraat 9 - Sanet Groenewald (Juta) The rainbowbirds - Piet Grobler (Kagiso en Maskew Miller Longman) Op die spoor van die Leseavanger - Martie Preller (Juta) Ouma Hester en die Dreadnaught merk 111 - Janie Oosthuysen (Human & Rousseau) (Ook in Engels) Professor Experimento se verskriklike formules - Janie Oosthuysen (Human & Rousseau) Madeleine van Biljon se Oumaboek - Madeleine van Biljon (Queillerie) The trouble with Sannie Langtand - Alex D’Angelo (Tafelberg) (Ook in Afrikaans)
Ouma Hester en die Intergalactic V.919 Supercomet - Janie Oosthuysen (Human & Rousseau) (Ook in Engels) Sersant Spochter se ongelooflike leuenverklikker - Janie Oosthuysen (Human & Rousseau) Kwinksinnig - Johan Combrink, (Tafelberg) Sannie Langtand rides again - Alex D’Angelo (Tafelberg) 1999 Liewe Heksie en die rekenaar - Verna Vels (Human & Rousseau) 2000 Beware of the canary - Philip de Vos (Human & Rousseau) 2001 Dokter MeDiCin - Roberto Piumini (Lemniscaat, Nederland) (Ook in Afrikaans, Amerikaans en Italiaans) 2002 Die Liewe Heksie Omnibus - Verna Vels (Human & Rousseau) Een slokje Kikker - Piet Grobler (Lemniscaat, Nederland) (Ook in Afrikaans, Amerikaans, Engels, Italiaans en Frans) Die Spree met Foete - Philip de Vos - vertalings van Annie MG Schmidt-verse (Human & Rousseau) Let’s travel - Ann Walton (Juta) 2003 Toepa-toepa towery - Johan Spies (Protea Boekhuis) Limericke vir die lekker - Philip de Vos (Maskew Miller Longman) |
Lees ook:
Ink + papier: woorde word sprokies:
Hanlie Retief gesels met Piet Grobler
Artikel gepubliseer in Rapport, 17 November 2002
Terug na: Skrywers en illustreerders
Terug na: Afrikaanse Kinderliteratuur