George Weideman se kat-en-muis avonture vir beginnerlesers


Die Geel Komplot

George Weideman

Illustrasies deur: Alida Bothma

Tafelberg

2003

ISBN: 0-624-03988-9

 

Tara Tandmuis is 'n meisiemuis met 'n missie. Turbotjaart is haar bekkige voet-in-die-wind mannetjiesmuis-makker. En saam-saam is hulle die gedugte span wat Muisbosdorp se muise van algehele uitwissing moet red!

Die Geel Komplot is 'n boek vol kinkels en verrassings - daarvan getuig die talle flambojante karakters: die skrikaanjaende kat Dierasie; 'n ruwe bende seerotte met name soos Soolvrat en Barnbas Brie; signor Mozzarella Muis, Tara se wêreldwyse half-Italiaanse oom; Petite Gervaise, wat haar pad deur 'n Franse woordeboek gevreet het en nou Frans magtig is; en nog 'n hele wemeling van tandmuise, kerkmuise, skeerbekmuise, rietmuise en - les bes - seerotte en hawerotte.

Die uiters vermaaklike en vernuftig uitgedinkte storie is ideaal vir daardie tussenin-groep (8-11 jaar) vir wie daar so min geskryf word. Vir jonger kinders, wat dalk nog nie self goed lees nie, is dit 'n uitstekende voorleesboek. Ma en Pa kan dit saans voor slapenstyd voorlees, een hoofstuk op 'n slag.

Met kieliesnaakse pensketse deur die bekende en beminde Alida Bothma.

George Weideman is reeds goed bekend as digter en skrywer van kortverhale en romans vir volwassenes. Hy het ook 'n aantal jeugboeke agter sy blad. Die Geel Komplot is sy eerste kinderboek. Hy en sy gesin woon in Delahaye, naby Kaapstad.

Alida Bothma het haar loopbaan as kunstenares by 'n advertensiemaatskappy in Kaapstad begin, nadat sy 'n diploma in Grafiese Kuns aan die Kaapse-Technikon verwerf het. Sy het reeds sowat sewentig kinderboeke geïllustreer. Die Bothmas het drie dogters en woon in Port Elizabeth. 

 

pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Nuwe boeke
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Afrikaanse kinderliteratuur