Leon de Villiers sorg vir een van die beste Afrikaanse kinderboeke van die afgelope paar jaar |
|
Leon de Villiers Illustrasies deur: Berco Wilsenach LAPA Uitgewers 2003 ISBN: 0 7993 3151 1
|
|
Lank-lank gelede was die Diepgrawers 'n groot erdfamilie, maar nou is daar net ses van hulle oor - Ouma Smakkie, Pa Vasgryp, Ma Uilverskrik en die drieling, Droomoog, Witstert en Snoetie. Die ander erdfamilies maak al hoe meer snuffelpraatjies oor die Diepgrawers, nie net omdat hulle so min is nie, maar ook omdat hulle allerhande on-erdse dinge aanvang. Die jong Diepgrawers klouter dan selfs in bome rond! Wanneer Droomoog een nag iets doen wat geen opregte erd ooit mag doen nie, is dit die laaste strooi. Die Diepgrawers rnoet gestraf word - hulle moet veld-uit! Sal Droomoog kan regmaak wat hy verbrou het? En sal hy kan ontsnap van die woeste vuur en die verskriklike Vreet se kloue? Gelukkig is Droomoog 'n ware Diepgrawer, 'n erd wat nie opgee nie, 'n erd met 'n plan. Die skrywer, Leon de Villiers, is een van die mees bekroonde kinderboekskrywers in Suid-Afrika. Sy boeke het onder andere die Scheepersprys vir jeuglektuur, die MER-prys vir kinderlektuur en die ATKV-kinderboektoekenning verower. Droomoog Diepgrawer is De Villiers se vierde boek wat by LAPA Uitgewers verskyn. Die atmosferiese illustrasies is deur die beeldhouer en installasie-kunstenaar, Berco Wilsenach.
|