Babelela kry 'n opvolger |
Diep, diep in 'n donker bos Outeur: Martie Preller Illustrasies: Andries en Erica Maritz Lapa Uitgewers, 2004 ISBN: 0799331821
|
|
|
Diep, diep in ’n donker bos, is die
langverwagte opvolg op die topverkoper prenteboek, Babalela, wat
reeds duisende jong lesers bekoor het. "Wie woon nog in die diep en
donker bos?" wou almal weet, en sommer daar en dan is besluit om die
Babalela se aanhangers bekend te stel aan die ander bosbewoners. Daar is
Wrrrumpie, die haastige en lastige wurm; die humeurige Knortand wat na
almal hap met sy skerp tande; Potifant met sy reuse pote, wat kyk waar hy
trap, maar nie altyd trap waar hy kyk nie; die nuuskierige Meermoskat; die
agt Fripperwakkies wat nie vir ’n oomblik ophou kwetter nie en natuurlik
die Babalela, die enigste een wat al ooit ’n avontuur buite die bos
beleef het. Maar nie vir lank nie…… Die ander bosbewoners is
vasbeslote om ook die wye wêreld buite die bos te gaan verken. Hulle hou
egter nie rekening met al die gevare wat in die stad op hulle wag nie, en
kort voor lank is al die bosdiere toegespyker in bokse. Sal die Babalela
hulle uit hierdie verknorsing kan red?
Martie Preller is een van die mees geliefde
Afrikaanse kinderboekskrywers en het reeds verskeie toekennings vir haar
werk ontvang, waaronder die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur
vir Babalela. Die animasiekunstenaars, Andries en Erica Maritz, is
verantwoordelik vir die betowerende illustrasies.
|