Nuwe avonture van Balkie


Balkie en die kleurdief

Martie Preller

Illustrasies deur: Elisabeth Pulles

Human & Rousseau

2004

ISBN 0 7981 4305 3

 

So wat doen Balkie hierdie keer?

Onverskrokke en uitbundig agtervolg hy die skelm dief wat al die kleure gesteel het. In die Wildtuin vat hy summier die groen by die dief af. In Egipte die geel. In Holland, wat vol vaal tulpe staan, gryp hy die rooi by die dief. En in Venesië, met 'n gespartel, kry hy die grys terug. In Spanje is daar amper groot moeilikheid, maar hy slaag tog uitmuntend daarin om die pienk by die dief af te vat. En so gaan dit aan totdat hy in Australië net nog die bruin moet terugkry - wat dan ook die geheim van die kleurdief en sy motief ontrafel.

'n Lekker aksiebelaaide jaagtog oor kontinente en deur stede en dorpe wat nie net die leser nie, maar ook die voorleser veel pret en plesier sal verskaf. Dit leer die klein lesertjie ook van kleur en van plekke en van mense.

Martie Preller, Elizabeth Pulles en Balkie is reeds 'n gedugte span. Martie is die skrywer van talle kinder- en jeugboeke soos Die Balkieboek (Human & Rousseau), Anderkantland (Tafelberg), Ek is Simon (Tafelberg), en Droomvangers (Human & Rousseau). Tesame met Elizabeth Pulles, bekroonde illustreerder van die Balkie-stories in Rooi Rose, het Martie Balkie in 1992 bekend gestel. Balkie het so gewild geword dat selfs Afrikaanse kinders wat in die buiteland woon, vir hom skryf - vanuit Australië, Kanada, Duitsland en Namibië. Die Balkieboek is intussen bekroon met 'n ATKV-toekenning sowel as die Alba Bouwer-prys.

 

pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Nuwe boeke
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Afrikaanse kinderliteratuur