Artemis Fowl praat Afrikaans!


Artemis Fowl

Eoin Colfer

Vertaal deur Janie Oosthuysen

Human & Rousseau, 2002

ISBN: 0-7981-4222-7

R89.95

 

"Hoe sal 'n mens vir Artemis Fowl probeer beskryf? Etlike psigiaters het al probeer en misluk. Die hoofprobleem is Artemis se verstommende intellek. Hy fnuik elke toets waaraan hy onderwerp is. Hy het die grootste mediese geeste verwar en het verskeie van hulle al brabbelend na hul eie hospitale teruggestuur.

Dat Artemis 'n wonderkind is, ly geen twyfel nie. Maar hoekom sal so 'n briljante persoon sy lewe aan kriminele aktiwiteite wy? Dis 'n vraag wat net een mens kan beantwoord. En hy verkies- om nie te praat nie."

Artemis Fowl is 'n fantasie-avontuur. Die verhaal, meesleurend en ietwat subversief, is gewaarborg om lesers van alle ouderdomme te boei! Hoogs suksesvol en met verstommende verkope in die Verenigde Koninkryk, die VSA en 31 ander lande, het dit reeds 'n uitgewersfenomeen, geword. Die filmregte is verkoop en die tweede boek in die reeks het onlangs verskyn. So, raak nou verslaaf, indien jy nie reeds is nie!

Artemis Fowl is op die kortlys vir die WH Smith Book Awards 2002.

Hierdie Afrikaanse uitgawe is briljant vertaal deur Janie Oosthuysen, bekroonde skrywer uit eie reg en vertaler van die Harry Potter-boeke.

Eoin Colfer is op 14 Mei 1965 in Wexford, lerland gebore. Hy is sy lewe lank 'n ywerige leser, lief vir die teater en het selfs 'n paar toneelstukke die lig laat sien. Hy het begin skryf toe hy in Graad 6 was - 'n toneelstuk vir die klas.

pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Nuwe boeke
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Afrikaanse kinderliteratuur