Marita van der Vyver


Marita van der Vyver is in Bellville gebore, waar sy haar laerskooljare deurgebring het. Sy was in Pretoria en Nelspruit op hoërskool en in haar matriekjaar, die Afrikaanse Eeufeesjaar 1975, het sy in 'n landwye kompetisie 'n studiebeurs vir vier jaar losgedig. Sy is na Stellenbosch, waar sy onder prof DJ Opperman gestudeer en in 1978 'n B.A. met Afrikaans en Frans verwerf het. In 1979 het sy honneurs in joernalistiek cum laude verwerf, en 'n paar jaar later, as deeltydse student, 'n meestersgraad in joernalistiek met 'n tesis oor die vrou in die Afrikaanse pers.
Na universiteit het sy 'n jaar oorsee gewerk en met haar terugkeer as verslaggewer by Die Burger gewerk, daarna as kopieskrywer by Leserskring en nog later as artikelskrywer by Sarie. In 1987 het sy vryskut begin werk om meer tyd vir skryf te hę.
Haar debuutwerk, die jeugverhaal Vat jou jas (1982), is bekroon met 'n beginnersprys in 'n wedstryd van Tafelberg en Sarie. Haar volgende twee jeugboeke, Tien vir 'n vriend (1987) en Eenkantkind (1991), was albei Sanlam-finaliste, en laasgenoernde is ook bekroon met die ATKV-prys vir Jeuglektuur.

Haar eerste roman vir volwassenes, Griet skryf 'n sprokie, het in 1992 verskyn en was 'n sensasie en 'n blitsverkoper. Die roman is bekroon met die ATKV-prys, die M-Net-boekprys en die Eugene Marais-prys. Dit is węreldwyd vertaal, onder meer in Engels, Nederlands, Duits, Frans, Italiaans, Spaans en Sweeds. Dit is ook die eerste Afrikaanse boek wat in Chinees vertaal is. Haar volgende roman, Die dinge van 'n kind (1994), is ook in Engels, Duits en Nederlands vertaal. Al twee romans is verwerk tot toneelstukke wat by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer is.

In 1997 is haar eerste boek vir jong kinders, Olinosters op die dak, met die Tienie Holloway-medalje vir kinderlektuur bekroon. In die jaar het sy ook ‘n Internasionale Beurs van die Stigting vir Skeppende Kunste gewen, wat haar in staat gestel het om aan die International Writing Program van die Universiteit van Iowa in die VSA deel te neem.

Wegkomkans en Griet kom weer is onderskeidelik in 1999 en 2001 gepubliseer, en laasgenoernde word tans in Engels vertaal.

Sedert Januarie 1999 woon sy permanent in Provence, Frankryk, saam met haar Franse eggenoot, Alain, hulle dogter, Mia, gebore in 1999, haar seun, Daniel, gebore in 1992, en Alain se twee seuns, Thomas en Hugo.

Lees ook: Onderhoud met Marita van der Vyver deur Jaco Jacobs

pyl2.GIF (90 bytes)Terug na: Sanlamprys 2002 Commendatio
pyl2.GIF (90 bytes)Terug na: Skrywers en illustreerders
pyl2.GIF (90 bytes)Terug na: Afrikaanse Kinderliteratuur