Dolf van Niekerk |
| Rudolf Johannes van Niekerk is op 22 Februarie 1929 op Edenburg in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer op die dorp en gaan daarna na die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein waar hy in 1949 die BA-graad in Wysbegeerte met lof behaal. |
| In 1950 sluit hy hom by die SAUK aan as omroeper- regisseur. Hy studeer ook deeltyds by Unisa vir die honneursgraad in Wysbegeerte wat hy in 1954 ook met lof behaal. Met die totstandkoming van die Departement van Landbou se radiodiens, Landbouradio in 1957 word hy radiobeampte by die departement en later hoof van die radiodiens. | ![]() |
| Ondertussen begin hy weer studeer en in 1967 behaal hy die
MA-graad in Wysbegeerte, eweneens met lof, aan die Universiteit van Pretoria met n verhandeling
wat handel oor "Vryheid as fundamenteel-eksistensiële prinsipe in
"Aantekeningen uit het Ondergrondse van F.M. Dostojewski".In 1982 rond hy sy akademiese studies af toe hy
n doktorsgraad in Wysbegeerte behaal met n proefskrif wat handel oor
"Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse Bodembenuttingsituasie: n
kultuurfilosofiese studie". Van Niekerk word bevorder tot adjunk-direkteur in die
Afdeling Landbou-inligting van die Departement van Landbou en in 1978 word hy direkteur
van die Direktoraat Landbou-inligting - n pos wat hy beklee tot met sy aftrede in
1994. Dolf van Niekerk se liefde vir die landbou, die omgewing
en wysbegeerte kom nie net tot uiting in sy studie en professionele loopbaan nie maar ook
in sy skryfwerk. Hy begin reeds op skool en op universiteit skryf en in 1953 debuteer hy
in Standpunte met n aantal gedigte. Terwyl hy deeltyds studeer en as omroeper
werk, skryf hy skryf hoorspele, hoorbeelde en radiovervolgverhale. Hy skryf ook prosa en Gannavlei,
sy eerste boek, word in 1958 gepubliseer. Hy doen ook n verskeidenheid radiowerk en
ontvang verskeie pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy
hoorbeelde. In 1963 word die Eugene Maraisprys aan hom toegeken vir sy bundel novelles, Skepsels.
Van Niekerk was een van die sogenaamde Sestigers hoewel hy nooit in die letterkundige
binnekringe beweeg het. Hy raak veral bekend as die skrywer van Die son struikel,
en dit is ongelukkig dié nogal moeilik toeganklike boek waarmee die meerderheid
Afrikaanse jongmense as voorgeskrewe werk kennismaak met Van Niekerk se werk en nie met
een van sy voortreflike jeugverhale nie. Benewens sy prosawerk het Van Niekerk ook
poësie, dramas, hoorspele en televisietekste gepubliseer. Skrik kom huis toe: Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1968 Die Haasvanger, ontvang in 1986 die Scheepersprys. Hy wen ook die MER-prys met die boek. Dolf van Niekerk oor sy skryfwerk en invloede daarop: Van Niekerk vertel dat hy altyd baie gelees het. Een van die eerste boeke wat hy kan onthou dat hy gelees het, skoolboeke buite rekening gelaat, is Die hut van Outa Tom, die vertaling van Betty Stowe se klassieke kinderboek. Dan was daar ook Die Wit Kraai, n boek wat hy by pa present gekry het. Hy onthou die doodsengel wat al op die Dorslandstrekkers se waspoor gevolg het. Een van sy skoolmaats was n familielid van Otto du Plessis van Nasionale Persfaam. Hulle maats het by hom tougestaan om die boeke wat hy by sy oom gekry het te lees. So het hy met onder andere die Keurboslaan reeks kennis gemaak. John van den Berg, die skrywer, was n neef van Van Niekerk. Hy het elke jaar by hulle gaan kuier en een jaar het hy N.P. van Wyk Louw se nuwe bundel essays, Lojale verset , saamgebring. Hierdie boek het n geweldige invloed op Van Niekerk gehad en n kritiese ingesteldheid by hom gevestig. Tot dusver is die Afrikaanse werk waaraan hy blootgestel was, die voorgeskrewe werke van D.F. Malherbe en C.M. van den Heever. Hy het nou egter krities na dié werke begin kyk. Ander werke wat n groot invloed op hom gehad het in sy jong lewe is Reisiger na nêrens van Van den Berg en Die Grenslose van WA. de Klerk, werke wat volgens hom nie genoeg krediet kry nie. Toe hy op universiteit kom, is ander wêrelde vir hom geopen deur die vakke,Wysbegeerte en Letterkunde. Hy beskryf hierdie tyd as n ontploffing en n totale revolusie in sy lewe. Dit het saamgegaan met n intense belewing van musiek. Hy het in n klein dorpie grootgeword sonder veel blootstelling aan musiek. Dit was op universiteit wat hy byvoorbeeld die eerste keer die "Ave Maria" gehoor het en dat hy met Schubert kennis gemaak het. Hy het ook die voorreg gehad om G.A.Watermeyer op universiteit te leer ken. Later het hy vir D.J. Opperman leer ken. Alles hierdie dinge het gedien as prikkels en het meegehelp dat verdere wêrelde oopgegaan het. Oor hoe sy werk tot stand kom, sê Van Niekerk: "n Mens het maar altyd prikkels. As ek terugkyk is daar bepaalde krakies wat deur my werk loop. Daar is altyd n mens wat in n verhouding staan met ander maar ook met homself iets moet uitklaar". Dit varieer altyd maar is in beginsel dieselfde by my werk vir jongmense en volwassenes. Ook die karakters in my jeugboeke is enkelinge soos dié in my werk vir volwassenes. Dit gaan in die eerste plek oor mense - in die jeugwerk is dit net mense in die gestalte van n kind". Twee dinge is vir Dolf van Niekerk belangrik wanneer dit gaan oor sy skryfwerk vir die jeug: die eerste is dat hy glo dat n skrywer nooit oor hom- of haarself moet skryf nie en tweedens glo hy nie daaraan om kompromieë te maak ten opsigte van sy skryfwerk vir kinders nie. Hy glo nie daaraan om "makliker" te skryf vir kinders omdat hulle kwansuis nie sal verstaan wat geskryf word nie. Van Niekerk vertel dat sy jeugverhale juis groei uit bepaalde prikkels wat by hom bestaan. Hy glo dat alle stories, alle verhale maar variasies op dieselfde tema is. Hulle ontstaan wel verskillend maar op die ou end is dit n organiese proses - n verskeidenheid prikkels wat op hom as skrywer inwerk soos n "lig wat uit 1000 vensters skyn. Hy skryf nie doelbewus eksistensieel nie maar dit is maar altyd deel van die mens se lewe. Skryf is vir hom noodsaak en dit gaan nie maklik nie - soms is dit bloedsweet. Hoewel hy al drie sy jeugboeke in n redelike kort tyd geskryf het, het die deurdink daarvan, die deurwerkproses jare geduur en daar was wat dit betref geen verskil met sy werk vir volwassenes nie. In die geval van Skrik kom huis toe is daar byvoorbeeld baie prikkels: hy het as kind self duiwe gehad en het self n verlore duif opgetel soos in die boek gebeur. Duiwe het hom nog altyd gefassineer en hy het tot in die tagtigerjare met duiwe geboer. Nog n prikkel is sy eie jeugherinneringe aan die plattelandse dorpie waar hy grootgeword het. Wat Die Haasvanger betref, het hy as kind so n seun geken wat n buitestaander was en toevallig by atletiek betrokke geraak het. Hy het nie die kind se pa geken nie maar dit was die prikkel en sy verbeelding het die res gedoen. Hy het vir jare met die prikkels geloop en dit het by hom gespook en hy wou net die storie vertel. Dit was op die ou end Elize Botha wat die deurslag gegee het toe sy vertel het van n boek oor ou mense wat smart geken het en die refrein "wat het ons aan die jeug gedoen" by hom vasgesteek het". Oor die boek se oop einde vertel hy dat Petra Muller van Tafelberg Uitgewers hom verder aan die einde laat werk het. Aanvanklik was dit nog meer oop en onbeslis. Muller het hom egter daarop gewys dat hy die verhoudings tussen die karakters en veral Kiewiet se verhoudings met sy ouers en die storie tot op n bepaalde punt vat maar dat alles nog nie netjies gekoppel was nie. Die storie was nie klaar nie - iets wat hy self nie ingesien het nie. Hierna het hy meer gestalte gegee aan die verhouding tussen Kiewiet se pa en die ander vrou en ook aan sy pa. Dit het die moontlikheid gebied dat Kiewiet self kon kies aan die einde. Hy het die verhaal geskryf nadat hy lank besig was met sy doktorale proefskrif. Sy liefde vir die omgewing, vir die aarde word weerspieël in dié verhaal. Vir Van Niekerk is die "omgewing" daar waar jy tuis is en vir hom vloei liggaam en gees ineen. Die omgewing is vir hom deel van die menslike gees, en elke mens beleef die omgewing op n persoonlike manier. Wat Karel Kousop betref, het hy navorsing oor die Boesmans gedoen en die hele kwessie van die Afrikaner se gebondenheid was iets wat nog altyd by hom gespook het en waaroor hy ook navorsing gedoen het. In die proses het hy op die storie van die Kousops gekom. Hy het dit onthou en geleidelik het ander prikkels bygekom en daarop ingewerk. Ook in sy eie lewe was daar n prikkel. Toe hy klein was het daar n Boesman by hulle aangekom. Jare later het hy in n NALM nuusbrief gelees oor die Vrystaatse omgewing van Boshoff en Luckhoff waar hy grootgeword het. Dit het hom teruggeneem na sy jeug en hy het na die geskiedenis van die Kousops gaan soek. Dinge het oopgegaan en bymekaar aangesluit. n Groot deel van die verhaal is outobiografies. n Oorsig van Dolf van Niekerk se drie jeugboeke: |
![]() |
Saam met Die son struikel, is Skrik kom huis toe seker Van Niekerk se bekendste werk. Die boek het die Afrikaanse literatore onkant betrap. In n tyd toe hierdie literatore kinder- en jeugliteratuur nog duidelik as n minderwaardige genre gesien het en gereken het dat kinderboeke nie kritiese studie regverdig nie, kry hulle hier te make met n boek wat, hoewel "die uiterlike en gedeeltelik ook die inhoud daarop dui" dat dit n jeugverhaal is, dit "meer om die lyf" het as om n jeug- verhaal te wees (Du Plessis 1968). |
|
Die verhaalgegewe is redelik eenvoudig: n jong seun wat vereensaam na sy ma se
dood.. Albert, die seun, het n slegte verhouding met sy stiefma wat haar
verbittering omdat sy nie kan kinders hê nie, op hom uithaal. Van sy pa kry hy geen
ondersteuning nie maar ten spyte van dié se onverskilligheid bly die seun verknog aan
hom. In dié wêreld van liefdeloosheid en eensaamheid is daar twee
kompensasies, Ma-Bet,
n vrou in die dorp wat insig en begrip vir hom het en wie hy aanvaar as ma, en sy
duiwe wat sy groot liefde is.Die tema van die verhaal is al beskryf as "die
gemoedskrisis van n gevoelige seun wat wil behou wat wesenlik van hom is". Hy
sit met n skuldgevoel omdat hierdie behoefte van hom met dié van sy pa en stiefma
bots. So n verhaalgegewe kan maklik in sentimentaliteit verval maar dit word verhoed
deur die eenvoud van die verhaal. Daar word gebruik gemaak van n beperkte woordeskat
en kort sinne en die gedagtes van n twaalfjarige word weergegee - alles elemente wat
moontlike sentimentaliteit beperk. Die duiwe, veral vergestalt in Skrik, ontwikkel tot simbole. Skrik word simbool van die skrik in Albert se lewe. Aan die einde van die verhaal, as Skrik terugkom, is daar die suggestie van versoening tussen Albert en sy stiefma en die duif is ook die simbool van dié versoening en van n oplossing van die troostelose situasie. Dit is juis die simboliek in die verhaal wat dit vir P.G. du Plessis moeilik gemaak het om die verhaal, wat hy graag as n jeugverhaal wou beskou, as sulks te tipeer. Volgens dié resensent, wat jeugdige lesers totaal onderskat het, het die simboliek groot dele van die boek te onverstaanbaar vir kinders gemaak, "alhoewel hulle moontlik die draad van die storie sou kon volg" (Du Plessis 1968). Die verhaal het dus vir hom bly "... steek tussen n jeugverhaal en iets meer"! Ander resensente het besware geopper teen die skematiese voorstelling van Albert se pa en stiefma, en selfs Ma-Bet. Daar word ook gemeen dat die slot nie volkome oortuig nie en dat dit wil voorkom asof die outeur uitsig probeer skep het in n situasie wat andersins totaal uitsigloos gelyk het . Met hierdie boek het Van Niekerk egter getoon dat hy juis nie die jeugdige leser onderskat nie en dat hy bewus is dat jongmense wel simboliek begryp en waardeer. Soos Elsabe Steenberg (1975:30) aangetoon het, verken die boek die kind se emosies met groter insig en op n breër skaal as enige ander Afrikaanse boek wat toe nog verskyn het. n Mens kry egter nie die idee dat die skrywer besig is om die kind se emosies en gewaarwordinge te interpreteer nie - daarvoor sorg die eerstepersoonsverteller. Omdat Albert sy emosies op lewelose voorwerpe projekteer, word die verhaal ook nie "ekkerig" nie. Deur die uitbeelding van die emosionele verwikkeldheid van die seun wat aan allerlei spanning en ongelukkige huislike omstandighede blootgestel is, toon die outeur dat hy insig en n intieme kennis het van kinders - bo en behalwe die baie geslaagde sintuiglike waarneming waarvan daar baie voorbeelde is. |
| Soos in Skrik kom huis toe en trouens die meeste van Van Niekerk se werk, handel Die Haasvanger oor die probleem van die mens se "eenlingskap". Soos in Skrik kom huis toe gaan dit weer oor n seun se behoefte aan liefde en sekuriteit en die vereensaming van die karakter as gevolg van dié gebrek. In hierdie geval is daar ook tog n strewe na kommunikasie maar daar is n meer bewustelike verset van die seun teen die dinge wat hom en sy ouers van mekaar weghou. | ![]() |
| Die huwelik tussen sy ouers is onherstelbaar op die rotse en die seun ken sy ma
net as n koue, verbitterde vrou wat emosionele uitbarstings het teenoor hom en oor
sy pa.
Die verhaal handel dus in wese weer oor verhoudings- probleme in n gesin en weer is daar sprake van versoening en begrip aan die einde (Steenberg 1987:41). Die opset is egter anders. Die hoofkarakter is in die eerste plek heelwat ouer, en waar daar by Skrik kom huis toe sprake was van verwerping deur n stiefma maar versagting in die verhouding teen die einde, word die verwydering tussen die hoofkarakter in Die Haasvanger en sy eie ma al groter.Terwyl Albert se pa in Skrik kom huis n swak figuur was wat hom nie ondersteun het nie, is Kiewiet se pa in Die Haasvanger simpatiek. Terwyl Albert se duiwe ontvlugting bied in Skrik kom huis toe en Ma-Bet daar is vir verdere ontvlugting, vlug Kiewiet in Die Haasvanger na die veld as hy net wil wegkom van die leegheid in hulle huis. Benewens die veld, begin hy aan atletiek deelneem en is daar die begin van n verhouding met Janet. Steenberg (1997:41) verwys ook na die "gestroopte styl" van die verhaal en dat dit ryk aan suggestie en beelde is. Lourens, of Kiewiet, se emosies word deur middel van eensinparagrawe uitgebeeld. Daar word meestal so sterk intern gefokaliseer dat daar veel meer na "hy" verwys word as na sy naam. Baie sinne begin ook met "Hy" en sy wys daarop dat die opstapeling daarvan soms steurend word. Dit sluit egter goed aan by die sober aanbieding en suggereer die selfgesentreerdheid en emosionele onsekerheid van die hoofkarakter. Dit is eers na n hele paar bladsye dat n onderwyser hom op sy naam noem en dan nog later op sy bynaam, Kiewiet. Hierdie bynaam het spesiale betekenis, naamlik die verbintenis met die veld, die plek waarheen hy vlug vir ontvlugting en die plek wat hy ken. "Die veld was nog altyd sy huis" (11). Hoewel Kiewiet nie self die verteller van die verhaal is nie (dit is n alwetende derdepersoonsverteller), word die verhaalgegewe vanuit sy perspektief vertel, dit word aangebied soos hy dinge sou beskou. Die leser het nie die idee dat n verteller van buite beskryf wat met Kiewiet gebeur nie, daar is eerder n illusie van daar wees, van teenwoordig wees by sy laaste skooljaar, sy probleme met sy ma, maar ook met die nuwe verhoudings wat ontstaan met n onderwyser en met Janet. Sy uiterlike word nooit beskryf nie omdat hy dan van buite beskryf sou moes word. n Mens weet egter dat hy goed kan hardloop en die feit dat hy uit die bloute goed vaar met die langafstande is gemotiveer deur sy vroeëre hardloop agter hase aan. Die leser leer hom ook op n indirekte wyse ken deur sy ma se verwyte. Sy swak selfbeeld en swygsaamheid kan teruggevoer word na die emosionele probleme in sy ouerhuis en hulle armoede, en weer eens word dit nie van buite beskryf nie, maar uitgebeeld deur sy optrede en gedagtes. Van Niekerk werk ook sterk met motiewe en simbole in hierdie verhaal. Een motief is juis die kwessie van "hardloop": eers hardloop hy in die veld agter hase aan en later hardloop hy op die atletiekbaan. Soos die hardloop in die veld agter die hase aan betekenis aan sy lewe gegee het, so open sy deelname aan atletiek n nuwe lewe vir hom. Die feit dat hy die derde keer wat hy hardloop, verloor, is op die ou end vir hom as mens n oorwinning: hy verstaan dat daar n rede is waarom n mens soms verloor en Janet is ook steeds daar en nie net as hy wen nie. Die hase wat hy aanvanklik jag word geasosieër met hul warm lêplek, en hierdie warmte word ook geassosieër met Janet. As Janet egter in sy lewe kom, hou hy op jag. Die dassiekrans is vir hom n plek van veiligheid en ontvlugting, n soort geestelike moeder in die plek van die biologiese moeder met wie hy geen band het nie. Janet word ook geassosieer met water wat vir hom kalmte bring en hom afsonder van die res van die wêreld. Die kleur, swart, is simbolies vir negatiwiteit en dood: sy ma het gitswart hare en dra n lang, swart nagrok. Vroeër is genoem dat die verhaal draai om verhoudings- probleme. n Mens kan miskien meer algemeen sê dat die verhaal handel oor verhoudings: Kiewiet se verhouding met sy ma, pa, die onderwyser, Janet en dan ook die ander vrou in sy pa se lewe; ook die verhouding tussen sy pa en ma, sy pa en die nuwe vrou. Hoewel hy sy pa min sien, verlang hy na hom en gaan soek hy hom om n verduideliking te kry vir sy ma se houding teenoor hom. Hy verduidelik haar verwydering ten dele, maar Kiewiet begryp steeds nie haar verbittering nie. Hy dring dan by haar om n verduideliking aan - wat in die een kant tot haar finale verwerping van hom lei, maar ook tot die klimaks van die verhaal. Sy vertel hom van die ander vrou in sy pa se lewe en wanneer hy die aand soontoe gaan, sien hy sy pa en die vrou is gelukkig bymekaar. Hierna volg die versoenende maar oop slot: hy hoor waar sy ma is, "tel (sy) tas op en kry koers na sy ma toe" (88). Die suggestie is daar dat hy sy pa se verhouding aanvaar en dat hy terugkeer na sy ma omdat hy nou insig in haar houding het, weet dat sy swaar kry en simpatie met haar het. Hy weet immers dit gaan goed met sy pa en die goeie verhouding met sy pa en die begin met sy verhouding met Janet beteken dat daar kompensasies vir hom is. Die slot kan geïnterpreteer word as dat hy op onopvallende wyse gegroei het na volwassenheid en tot iemand wat self kan besluit wat hy wil doen en waar sy lojaliteit lê. Daar is ander wat dit interpreteer as dat hy na sy "geestelike ma" op pad is, die vrou wat hom sal laat tuisvoel, soos sy sy pa laat tuis voel (Steenberg 1986:9). Die totale verwerping deur sy ma maak dit moeilik om te aanvaar dat hy terug na haar gaan. Dit kan dus wees dat hy sy pa se nuwe vrou as sy "ware ma" sien. n Derde mening is dat hy so tot insig en volwassenheid gegroei het dat hy nie meer n ma van vlees en bloed ma nodig het nie en dat hy dalk na n "geestelike moeder" soos die dassiekrans op pad is. Wat seker is, is dat hy tot kalmte en rus gegroei het. Hy (en die leser) besef dat n mens nie altyd gelukkig of suksesvol kan wees nie. Sy ouers se verhouding is tot niet en hy verloor met die atleties maar aan die ander kant sien hy sy pa en die ander vrou is gelukkig en sê Janet dat sy vir hom sal wag. Sy kinderjare is verby en hoewel hy nog n ver pad het om af te lê, is hy volwasse genoeg om self die besluit te neem oor sy toekoms.Van Zyl (1986:16) meen egter dat hierdie oop slot te subtiel vir jeugdige lesers is. Nog n beswaar wat deur resensente teen die verhaal ingebring is, is dat daar te min spanning is om die leser geboei te hou - en volgens een kan dit daarom nie werklik as n jeugverhaal beskou word nie. So n beskouing onderskat weer eens die gesofistikeerde vlak waarop baie tieners lees. |
![]() |
Van Niekerk is n skrywer wat in sy werk teruggevind kan word. Die feit dat hy vir
jare met duiwe geboer het en n duiwerubriek vir n koerant behartig het, moes
vanselfsprekend n rol gespeel het by die skryf van Skrik kom huis toe, net
soos sy verknogtheid aan die aarde weerspieël word in Die Haasvanger, maar miskien
nog meer so in Karel Kousop. Dié verhaal handel oor n Boesmanseun wat by n |
| blanke gesin grootword. Die verhaal word aangebied deur
die perspektief van sy blanke maat, Gerrit, saam met wie hy grootword, maar soos die titel
reeds aandui, is dit Karel, die Boesmanseuntjie se verhaal. Gesinsverhoudings is weer
belangrik, hier veral Karel se gebondenheid met sy ouers. Daar is die verlange na sy ma,
wat hy wel nie direk wil erken nie, maar wat gesuggereer word omdat hy met sy eerste geld
vir haar n present wil koop.Dit spreek ook uit die feit dat hy wil wraak neem op
n kind wat hy dink sy ma gevloek het. Aan die ander kant is daar sy "reddelose
maar aangrypende verbondenheid aan sy pa" (Steenberg 1986:19). Dié het uit die leër
gedros om n moord te pleeg en word nou gesoek. Ten spyte dat hy dit oënskynlik goed
het waar hy nou is, wil Karel by sy pa wees en loop hy weg sodra hy n kans kry. n Hegter vriendskap ontwikkel tussen Karel en Gerrit maar die Boesmanseun wil tog steeds eenkant wees. Hy sorg vir homself, en wil op sy eie wees. Dit word goed uitgebeeld deur sy alleenslapery in die buitekamer. Dit ontwikkel selfs tot n motief: eers slaap hy alleen, en dan glip hy terug na die buitekamer as Gerrit wil hê hy moet by hom in die huis slaap. Later moet hy by Gerrit slaap as dié n ongeluk gehad het, maar weer eens gaan hy terug na die buitekamer. Hy gaan ook terug wanneer hy uit sy eie in Gerrit se kamer gaan slaap en wanneer hy beveel word om daar te slaap vanweë veiligheidsredes. En aan die einde is dit Gerrit wat vir hom sê dat hy daar moet gaan slaap omdat hy weet dat hy wil wegloop en hy dit vir hom wil moontlik maak. Ten spyte van hulle vriendskap laat Gerrit hom gaan - hy weet dit is wat Karel wil hê. Die mooi uitbeelding van die vriendskapsverhouding tussen die twee seuns van verskillende kultuuragtergronde wie se lewens toevallig saamgeloop het (Meyer 1988:26) is een van die positiewe elemente van die verhaal. Die ouderdomme van die seuns word nie vermeld nie maar volgens Steenberg (1986:19) is hulle moontlik tussen tien en twaalf jaar oud. Sy wys daarop dat die gestroopte styl en die feit dat die verhaal so "sober van uiterlike oordadigheid" is, waarskynlik meer tot tienerlesers sal spreek. Meyer (1988:20) is van mening dat die eerstepersoonsverteller eerder die gevoelens en gedagtes van n adollesent uitdruk. Dit is moontlik die rede waarom Van Zyl (1986:12) meen dat jong lesers moeilik met die karakters sal kan identifiseer, Ten slotte kan dus opgemerk word dat dieselfde tendense van
simbolisering en die outsidermotief wat so opmerklik in sy werk vir volwassenes is, dus
ook baie sterk teenwoordig is in Van Niekerk se jeugwerk.
Meer inligting oor Dolf van Niekerk en sy werk: A.v.Z. 1968. Insig en begrip in die kindersiel. Volkstem, 12 |
|
|