Toekomsverhaal met geestelike dimensie


Die teken

Jonita Swart

Tafelberg, 2001

R49 95

ISBN: 062403979-X

R49.95

 

 

Dis diep in die 21 ste eeu en die aarde is nou "Diana", 'n snikhete, onherbergsame stuk grond waar daagliks om oorlewing geveg word. Die Orde beheer alles; daar is geen sprake van afsonderlike lande met eie grense en wette nie: die aarde is een, en word deur een sentrale brein beheer.

In dié wêreld veg Frans Toerien en sy pa ook om oorlewing. Hulle deel die groenteplaas, waar hulle woon, met Bernice en haar pa Jarvis, 'n mistieke prediker wat glo dat 'n Godheid daar buite deur tekens aan die mensdom bevryding sal bring. Want slaverny het na die aarde teruggekeer: die Orde beheer alles. Frans moet besluit: moet hy, soos sy pa, hom eenvoudig by die Orde se reëls neerlê en niks bevraagteken nie? Moet hy na Jarvis se praatjies oor mistieke tekens luister? Of is Bernice se stomprokery die oplossing?

Die teken is 'n diepsinnige jeugverhaal met 'n sterk geestelike dimensie wat die leser uitdaag om te dink oor die grense van ons bestaan - uiterlik sowel as innerlik.

Die indrukwekkende bandontwerp is deur Tertia du Toit, gebaseer op een van haar skilderye.

Oor die skrywer:

Jonita Swart woon op George. Sy het reeds verskeie jeug- en lekkerlees-liefdesverhale die lig laat sien. Die teken is haar vyfde jeugroman.


Untitled-1.GIF (697 bytes)
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Nuwe boeke
pyl1.GIF (436 bytes)Terug na: Afrikaanse kinderliteratuur