Sprankelende eerste jeugboek deur Riana Scheepers |
Blinde sambok Riana Scheepers Tafelberg, 2001 ISBN: 0 624 03980 3 R49.95
|
![]() |
Blinde sambok is die eerste boek vir jonger lesers deur Riana Scheepers, een van die gewildste Afrikaanse skryfsters vir volwassenes. Hoewel die boek vanuit die gesigspunt van 'n jongerige kind geskryf is, sal hierdie ouer aanhangers ook net so veel plesier daaruit put as die jonger lesers. Gideonette onthou alles van die dag toe sy gebore is tot in die fynste besonderhede: Hoe almal gesê het hulle het nie hoop vir hierdie bondeltjie sprinkaanbene nie. En hoe sy besluit het sy WIL LEWE en hulle almal verkeerd bewys het. Dit is dan ook die eienskap wat haar deur haar kinderjare en grootwordjare kenmerk: haar veggees. Selfs wanneer rampe die gesin tref en die mense van die omgewing weer onder mekaar begin fluister van die vloek wat op die familie rus. Deur alles heen veg sy voort vir 'n beter lewe, en op die ou einde is die leser saam met haar bly wanneer dit duidelik word dat die lewe vorentoe vir haar gaan glimlag. 'n Buitengewone boek propvol lewe en vitaliteit. 'n Boek waaroor aanhangers van Riana Scheepers se skryfwerk dol gaan wees. Blinde sambok is 'n heel besondere boek, en soos die uitgewers sê, dit is geheel en al onkategoriseerbaar en dit gaan soos 'n fris briesie deur die wêreld van die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur trek. |