Huldigingswoord: Alba Bouwerprys vir 2004

aan Leon de Villiers

Droomoog Diepgrawer

Die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur word vanjaar toegeken aan Leon de Villiers vir sy bekoorlike verhaal, Droomoog Diepgrawer.

Droomoog is ‘n lid van die Diepgrawers, ‘n erdfamilie, die skrywer se fantasieryke vervorming van ‘n groep waaierstertmeerkatte. Maar teenspoed tref die Diepgrawers as die familie se onnutsige drieling, Droomoog, Snoetie en Witstert, hulle nie aan die kodes vir fatsoenlike naasbestaan hou nie. Die buurkolonie maak beswaar teen die kinders se gedrag, en die Diepgrawerfamilie word verban uit hulle woon- en jaggebied.

Dis nie so maklik om elders tereg te kom nie, want die wêreld om hulle is beset deur ander erdfamilies, en hulle is nie welkom in hierde afgebakende terrein nie. In die een gebied bly die Pronksterte, in die ander die Skoorlappers. Dan is daar ook nog die Langlippe en die Grysore, die Gladdebekke, Spoorneuse, Knaagore, Stertsitters en die Sukkelkloue om nie te praat van Geeloog die rooikat en Vreet die luiperd nie.

Deur die gevaarvolle omgewing moet die Diepgrawers hulle weg vind op soek na ‘n nuwe tuiste. Die een ramp na die ander tref hulle. Eers ‘n veldbrand, dan amperse verdrinking en uiteindelik verslawing deur ‘n erg superieure kolonie erde.

Maar ons bevind ons genadiglik in die ryk van die kinderboek: waar stories nog gelukkige eindes kan hê en goed kan wees: die Diepgrawers se probleme word uiteindelik opgelos en hulle kry ‘n nuwe tuiste. En natuurlik is dit Droomoog wat instumenteel is in die wending aan die einde.

Leon de Villiers se dierekarakters word vermenslik in die sin dat hulle gesprekke voer. Met sy pratende diere sluit hy aan by ‘n tradisie wat ver in die letterkunde terugstrek: tot by die fabels van Esopus uit die tyd van die Grieke, tot by die oeroupa van alle jakkals en wolf-stories, die geniale Middelnederlandse epiese gedig Van den vos Reinaerde, en tot by die sprokies van die Grimm-broers en Hans Christian Andersen.

Die skrywer maak die transposisie in die taal van die menswêreld na die dierwêreld deur die aanpassing van die idioom aan die dierwêreld. Hy gee nie net aan sy diere beskrywende Afrikaanse name nie, hy laat hulle ook sappige Afrikaans praat. Die oorhaastige drieling word al vroeg deur hulle ouma gewaarsku dat hulle sterte altyd vinniger as hulle snoete is. ‘n Kwelvraag is ‘n knaagvraag, en ‘n lastige vraag ‘n rooimiervraag. As die weerlig slaan, is dit die groot donderpote wat tussen die wolke hardloop, en as die erde doodstil is, is hulle so stil soos graspolle. Paat jy nonsens, word jy verwyt dat jy stofpraatjies praat en te veel liegbessies geëet het. En as jy groot skrik, skrik jy jou ore plat. Die geniale taalspel is een van die groot plesierighede van hierdie verhaal.

Droomoog Diepgrawer is ‘n selfleesboek, maar hierdie omvattend geïllustreerde verhaal leen hom ook uitmuntend tot voorleesboek vir die kleiner kind.

Meneer die voositter, ek versoek dat u die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur aan Leon de Villiers oorhandig vir sy sjarmante boek vir die kleiner kind, Droomoog Diepgrawer.

Huldigingswoord: prof JP Smuts
Potchefstroom, Mei 2004

pyl2.GIF (90 bytes) Terug na: Alba Bouwerprys
pyl2.GIF (90 bytes) Terug na: Resensies en besprekings
pyl2.GIF (90 bytes) Terug na: Afrikaanse Kinderliteratuur