Hoe Bruin was die Wind?: Bruin genoeg om die verhaal van Jacoba Afrikaner te stuit?

Maretha Maartens

Die twee jong soldate het dié Saterdag pamflette op die Boeremark naby die historiese Dam van Trane in Bloemfontein uitgedeel:

Woon die afsluitingseremonie van die herdenking van die Anglo-Boere-oorlog by!

Ek het na die soldate-uniform, die ou gewere en die gesonde, blosende wange van die twee jong manne gekyk en vir hulle gesê: ''Weet julle hoe dankbaar ons kan wees dat julle net oorlog-oorlog speel?''

Kort nadat Gezina en die Bruin Wind in 1985 verskyn het, het iemand in die koerant geskryf: ''Het ons regtig nog 'n oorlogstorie nodig? Lê dié dinge nie darem nou eindelik agter ons nie? Is dit nou die tyd om alles weer oop te krap?''

Eintlik, weet ek nou, nadat ook die Angolese Grensoorlog agter ons in die bruin van die lewende wind lê, dat oorlog nooit oopgekrap hoef te word nie. Die bruin wind waai elke oorlog by die huise en in die lewens van die nageslag van elkeen wat ooit oorlog gemaak het, in. Dit is van geen belang of jou groep as oorwinnaar of as oorwonnene uit die oorlog gekom het nie. Die wind van oorlog bly verskriklik, onuitwisbaar bruin.

In Gezina en die Bruin Wind is daar, soos enigeen uit die titel kan aflei, 'n Teenwoordigheid. Sy naam is die Bruin Wind. Hierdie Teenwoordigheid dans op die grafte; hierdie Teenwoordigeheid verteenwoordig alle nie-eerbied vir menselewens, alle geheime en gruwels wat nog nie openbaar gemaak is nie, elke vorige en latere oorlog in die wêreldgeskiedenis. Die Bruin Wind verteenwoordig die swygsame getuie, dit verteenwoordig die haat van mens jeens mens. Dit verteenwoordig dood en verwoesting, mag en droefheid.

Wind kan alles wees: lewe en dood, smart en wanhoop. Daarom is hierdie wind ook die stem van die verlede: 'n bruin en wilde stem, 'n klaagstem en 'n bewusmakende stem. Die Bruin Wind is die stem van onthou, van nooit-vergeet:

Die bruin wind is ook op die begrafnis, dink Gezina deurmekaar. Maar hy bly nie lank by Lena se graf staan nie. Hy loop langlyf van rooi grondhopie tot rooi grondhopie, asof hy die name op die klippe en stukkies plank probeer lees. Hy loop al met die uitgetrapte paadjie tussen die graffies langs en buig sy dwarrel-lyf van kant tot kant om nie een naam oor te slaan nie. Maar naby die verste ry graffies raak hy oneerbiedig-niemand sal hom tog heeltyd dophou nie-en hy klouter in 'n vlaag rooi stof oor 'n paar van die ouer grafte. Toe hy die verste ry bereik, bly hy op een van die hoë grondhopies staan en skop sy voete uit in 'n heidense dans. Toe gly hy ondertoe en kry koers, terug na die tente toe. (Uit: Gezina en die Bruin Wind.)

Hoe bruin die wind was? Bruin genoeg, hoop ek, om asof in onuitwisbare ink te skryf dat oorlog nie die keuse van mense, van kinders wat leer lees het, durf wees nie. Nooit weer nie. Daar is 'n oorlog om te veg, 'n boek-oorlog vir vrede. 'n Oorlog vir ander keuses, vir versoening. Miskien word dit die beste in die volgende woorde verwoord:

We all know that books burn-yet we have the greater knowledge that books cannot be killed by fire. People die, but books never die. No man and no force can abolish memory … In this war, we know, books are weapons. --Franklin Delano Roosevelt, Publisher’s Weekly, 1942, ‘Message to the American Booksellers Association.'

Oorlog in boeke wat vir die jeug geskryf word, en oorlog in romans vir volwassenes handel oor dieselfde gruwels. Al wat verskil, is die idioom, die invalshoek. In jeugverhale en kinderboeke word komplekse ervaring bevatlik gemaak; in volwasse literatuur word die aandag gevestig op die kompleksiteit van ervaring.

McDowell sê dit kripties: ''A good children's book make complex experience available to its reader, whereas a good novel for adults draws the attention to the complexity of experience.''

Wanneer die gruwels van die oorlog, waarvan die Bruin Wind die simbool geword het, in 'n jeugverhaal beskryf word, is daar poppe en musiekboeke, hanslammers en werfvarke in die prentjie: die wêreld wat vir jong kinders saak maak:

Die offisier steek die voorkamergordyne self aan die brand. Die materiaal vat oombliklik vlam; daar is swart rook tussen die vlamme. Die vuurtonge lek heen en weer langs die muur op asof dit iets soek om te verteer, maar die offisier het reeds 'n vuurhoutjie op die mat gegooi. Die voorkamer word lig van die vlamme; dit lyk asof die mure en vensters soos seile in die hitte begin bol, asof die vuur soos kokende olie oor die orreltjie spoel.

Die offisier kom met sy kolonne van agter om die huis gestap. Nie een keer kyk hy in die rigting van die huilende kinders nie. Gezina sien hoe sy kop van links na regs draai soos sy oë oor die werf gaan; sy sien hoe hy met die hand in die rigting van die hanslammers se kampie beduie. Een van die soldate naaste aan haar trek sy bajonet uit die skede. Sy hoef nie te wag nie; sy weet wat gaan gebeur.

Die lammers se geblêr het anders geword; Gezina hoor dit agter haar. Daar is 'n wilde gekekkel en gesnater van die pluimvee op die werf, die mishoringskree van een van die werfvarke. Gezina vlug blindelings agter die ander aan en by die werfhek uit, die komberse en driebeenpot en kannetjie lampolie en die los wintersgoed soos 'n vrag waaronder haar bene wil swik. Een enkele keer kyk sy om soos Lot se vrou; het Sodom en Gomorra só gelyk toe dit deur vuur en swael verwoes is? Want die huis waggel dronkerig in die lekkende vlammersee en die dak begin ineenstort. Die werf is vol pluimvee en varke en soldate; die vuur- en sonlig maak bose sterre op die opgehewe lemme van die soldate se bajonette.

In die jeugverhaal, Gezina en die Bruin Wind, skryf Gezina aan haar pa-die pappa wat oorlog toe gegaan het: Sy is vasgevang in post-traumatiese stres, presies soos die jong soldate en Koevoete in Jacoba Afrikaner. Niemand het egter gedurende die Anglo Boere-oorlog 'n naam vir dié toestand gehad nie:

Toe ons die eerste aand hier aangekom het, kon ek nie op die kaal grond aan die slaap raak nie. Dit was asof ek aanhoudend nog die vlamme aan die huis sien lek het; asof ek nog die varke en die pluimvee kon hoor. Ek het aan ons goed lê en dink: aan die orreltjie en al ons musiekboeke… aan ons lappoppe en stoele en die kissie in die kombuis…. Ek dink ek het tóé eers begin besef watter verskriklike ding met ons gebeur het. Toe het ek eers begin huil, ek kon nie ophou huil nie. Mamma het my in die kussing hor huil en opgestaan en by my kom sit.

' 'Dis die skok, my kind,'' het sy gesê. ''Huil maar; huil maar totdat alles uit jou uit is.'' En toe hoor ek haar vroetel en sy haal iets uit die donker uit haar voorskootska. Pappa sal nooit raai wat druk sy in my hand nie: so 'n houthangertjie wat Philip le Roux vir my gegee het voordat hy weg is. Mamma het dit in die laai gekry toe sy sakdoeke wou uithaal en het dit al die tyd by haar gehad. So is daardie hangertjie uit die vuur gered. Van haar eie mooi goedjies kon Mamma niks red nie.''

'n Eeu later gaan ons seuns weer oorlog toe. In Jacoba Afrikaner (deur Maretha Maartens) ‘n roman oor die Afrikaner, die Herero en die Wambo se gedeelde latere oorlog, is dit 'n jong Koevoet wat mense se huis binnedring om die mag van die sterkere op hulle af te dwing. Bas Pretorius en sy gesin moet aanhoor hoe Douglas, die Koevoet, vir hulle 'n gelykenis vertel, die waarheid van sy oorlogslewe. En die Afrikanerman wat self pa van 'n soldaat is, dink by homself:

Ek is nie lus vir ander mense se kinders se twak nie. Hierdie kind het ouers, nou kom haal hy sy stunts hier uit. Ons het twee kinders met groot probleme; vir die derde het die kuiergas nou ‘n probleem geword.

‘’Ek het ‘n storie gelees, Oom, Tannie,’’ sê Douglas.

Ek het nie geweet jy lees nie, wil Bas sê.

‘’Vertel dit stadig, Douglas,’’ sê Rika. ‘’Pa moet nou goed luister. Ma ook.’’

Hy sit lank koponderstebo, maak dan keel skoon. Hy kyk by almal verby toe hy begin praat.

‘’Daar was ‘n plaas iewers in Suid-Viëtnam, ek het die naam van die dorp daar naby vergeet, maar anyway, daar was ‘n plaas. ‘n Boer en sy vrou het daar met rondepensvarkies geboer. Hulle het nege kinders gehad en die kinders het hulle met die grootmaak van die varkies gehelp. Op ‘n dag het daar soldate van Noord-Viëtnam op die plaas aangekom en die boer met ‘n geweer in sy rug na sy hut gejaag. Hulle het sy vrou en sy kinders in ‘n kring om die boer laat staan en die majoor het vir die boer gesê: ‘’Ons weet dat daar van julle soldate in die omgewing is. Sê vir ons waar hulle is, anders skiet ons eers jou bene en arms af en daarna jou kop van jou lyf af.’’ Die boer het begin pleit en die majoor het opdrag gegee aan die soldate om te doen wat hy gesê het hulle sou doen.

‘’Toe hulle die boer se kop van sy lyf afgeskiet het, het hulle hul gewere omgedraai en sy liggaam pap geslaan met die kolwe van hul gewere. Daarna het hulle die jongste kind geneem, haar teen ‘n muur vasgepen en gate deur haar knieë geskiet. Mense het aangehardloop gekom en die majoor het vir hulle gesê: ‘’Só sal dit met julle gaan as julle nie onmiddellik vir ons sê waar daardie soldate hulle skuilhou nie.’’

Sasja het opgestaan, haar gesig ‘n gestolde skree.

‘’Dit is afgryslik, ’’ sê sy.

Maar ook Rika pleit: ‘’Luister asseblief klaar, Mamma! Asseblief, luister net klaar!’’

‘’Ek wil vir julle iets vra,’’ sê Douglas. Hy sit gedreineer langs die tafel, maar sy vingers bly op die tafelblad trommel. ‘’Wie het die swaarste gekry, wie het die meeste gely: die boer, sy vrou wat hom nodig gehad het, sy kinders, die kleintjie wat laaste geskiet is… die mense wat die soldate en die lyke in die hut aangetref het, of die majoor?’’

Die reën stroom teen die ruite af; hulle is heeltemal alleen in die reën.

Bas Pretorius het opgestaan. Hy loop agterdeur toe, maak dit oop, adem die geur van reën en plantwortels en Afrika in. Hy is naar soos toe hy sy eerste hartaanmaning gekry het en hy sweet.

Toe hy omdraai, sien hy dat Rika radeloos huil.

‘’Dit is jy,’’ sê hy. ‘’Jy is die majoor, Seun.’’

 

Hy vat die seun van wie hy van die eerste dag af nie gehou het nie, aan die skouers en trek hom nader. Hy het die reuk van ‘n ander huis en ‘n ander wêreld. Daar is ‘n wilde reuk aan hom, soos dié van ‘n mens wat bloederige werk doen.

 

Nou, ná die oorlog van 'n eeu ná die Anglo-Boere-oorlog, wonder ek of die wind bruin genoeg was. Bella, horrida bella, Et Thybrim multo spumantem sanguine cerno.

(I see wars, dreadful wars, and the Tiber foaming with much blood), skryf Virgillius negentien, twintig jaar voor Christus. Noudat die foute in ons gene op die rekenaarskerm uitgewys kan word en dit veral aan die lig kom wat die uitdunning van die genetiese poel aan die Afrikaner gedoen het, weet ons-en is dit goed dat ons kinders hoor-dat die klaagsang van die Bruin Wind nie sonder rede was nie. Ons het meer verloor as 'n groot deel van ons bevolking.

Ons het ook geërf. Ons het met ‘n klein genetiese poel in 1652 weggespring. Aggressie, fanatiese passies, adrenalien, roekeloosheid, dwarsgeit was in ons voorvaders se gene.

Ons genetiese poel is grootliks uitgeput toe 29,000 vroue en kinders in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boere-oorlog gesterf het. Ons gedrags- en ligaamlike afwykings is sekerlik deur ondertrouery binne die beperkte genetiese poel geïntensifiseer. Ons is adrenalien-gedrewe en sowel dopamien - as serotonienbehoewend. (Die komplekse dopamien-produserende stelsel in elke mens lewer dopamien aan die brein. Genoegsame dopamien hou logika, groot -en fyn spierkoördinasie, motivering, seksuele bevrediging, kreaatiwiteit en dryfkrag in stand. Parkinson se siekte , Tourette Sindroom, kleptomanie en aandagafleibaarheid word direk verbind met ‘n dopamientekort.)

As gevolg van die menseslagting van oorlog, het ons die geleentheid om van die erge genetiese defekte van die Afrianer opgeklaar te kry, verloor. Binne die klein poel van ondertrouende oorlewendes het die intensiteit van sekere van hierdie genetiese defekte toegeneem. Neurobiologiese wanfunksies is volop in die nageslag van dié wat die oorlog oorleef het.

Natuurlik is die letterkunde van die wêreld, die toesprake van politieke leiers is vol vrae oor oorlog, vol filosofië oor oorlog:

The angel of death has been abroad throughout the land; you may almost hear the beating of his wings. - Johan Bright, met verwysing na die Krim-oorlog, 1855.

Maar die absloute bruinheid van oorlogswind, vrees ek, het het niemand nog ooit op papier verewig nie. So ook het niemand nog ooit uitgewys wáár die vlerke van die doodsengel oral in oorlogtyd klap nie. En dat dit nie slegs dié in die grafte is wat gesterf het of sterf nie.

Dit is die verantwoordelikheid van elke skrywer van elke land, elke romanskrywer, elke digter, elke jeugverhaalskrywer, om, as sy landoorlog of oorloë beleef het, ‘n stem te skep wat in die geheue bly: iemand soos Ulayela wat nét stem is in Michael Ende se Never-ending Story. Of ‘n stem wat voortleef, al sterf die mense. 'n Wese soos die Bruin Wind. Oorlog is te verskriklik om te vergeet. Oorlogstories kom nie in lentebriesies nie. Hulle kom in die grouheid en die rouheid van ‘n bruin wind.

Beslis was Neville Chamberlain reg toe hy gesê het: In war, whichever side may call itself the victor, there are no winners, but all are losers. -- Neville Chamberlain, toespraak, Kettering, 1938.

Agatha Christie kom tot dieselfde oortuiging: One is left with the horrible feeling now that war settles nothing; that to win a war is as disastrous as to lose one! --An Autobiography (1977)]

Ons sal dus moet onthou. Nie die geringste detail durf vergeet word nie.

Daar is geluide in die veld: die swiesjj-swiesjj van die bries deur die droë gras, die klein duidelike klank van 'n klippie wat rant af spring omdat Hans dit losgetrap het.

Jy sal nie sê daar is oorlog nie.

Sy kry 'n klip in die bors: Hoekom loop alles so verkeerd? Hoekom is daar soveel angs? Vir hierdie wye land? Vir hierdie oop vlaktes onder die vlieswolkies?

''Waar gaan ons heen?'' vra Hans, sy arms vol doeke.

‘'Refugee-kamp toe,'' sê sy en die klip in haar bors groei en groei. ''Onthou jy-Mamma het een aand vir ons vertel dis waar hulle die vrouens en kinders heen vat.''

'’Nou't … nou't ons niks meer nie,'' sê hy met 'n snik. ''Nou't ons nie meer 'n pa nie… of 'n huis nie… of 'n blyplek nie-niks nie. Nou moet hulle ons nog net doodmaak.'

'(Uit: Gezina en die Bruin Wind.)

Die bedoeling met Gezina en die Bruin Wind was juis nie om by die heroïese uit te kom nie, maar wel by wat W.H. Auden as volg beskryf:

O what is that sound which so thrills the ear

Down in the valley drumming, drumming?

Only the scarlet soldiers, dear,

The soldiers coming …

O it’s broken the lock and splintered the door,

O it’s the gate where they’re turning, turning;

Their boots are heavy on the floor

And their eyes are burning.

--Collected Poems, 1933-1938

Die wese van oorlog word ook in die harte van kinders gevind. Die belewenis, die trauma, is nie slegs op die slagveld nie:

Die bossies kry 'n aandreuk: souterig en klammerig en koud. En daar is voëls wat ver oor die vlaktes roep: hadida's met hul eindeloos weemoedige krysstemme, vinke en spreeus wat skielik wild in die lug begin maal voordat hulle êrens heen verdwyn.

Hulle het almal neste, dink sy asof sy droom. Warm neste vol warm veertjies. En hier loop ons agter 'n wa aan; hier is ons op die oop veld; vier vrouens en vyftien kinders…nee, sewentien, as 'n mens die twee babas op die wa bytel.

Honger, hongerder, skreeuhonger, wolfhonger, dink Gezina terwyl sy die komberse op die klam grond help oopsprei. Wat is hongerder as wolfhonger? Dood. Ná wolfhonger kom dood.

Daar is geluide in die nag. Die kamp lê witterig voor hulle: 'n ontsaglike tentedorp teen die donker hang van die koppie. Daar is flou kerslig agter die tentflappe; die klaende gehuil van kinders. Daar is die dik, grillerige geluid van water wat in die straat uitgeskiet word: skottelgoedwater, waswater-bietjies water wat oor en oor gebruik is, totdat dit dik soos sop geword het.

Daar gaan mense by hulle verby in die donker: mense loop byna bo-oor hulle. Daar gaan kinders aan die hand van broue verby; jy kan hulle in die donker hoor kla: ''My maag is seer, Mamma…'' En dan. 'n vrouestem: ''Ek gaan nie weer na daardie latrines toe nie; mens kan doodgaan van die stank… Tot laat in die aand loop die vrouens met die kinders na die latrine êrens in die donker; tot laat in die nag hoor Gezina die kinders van maagpyn kla.'' (Uit: Gezina en die Bruin Wind.)

Die aanskouer en die draer van die neweprodukte van oorlog, is die wind.

''Kyk, die wind is bruin,'' sê Barend.

''Bruin?'' var sy, maar voordat hy kan verduidelik, het sy dit self raakgesien. Daar is storf in die wolke bo hulle en in die vreemde lig tussen dag en nag, het die wind self kleur gekry. Die wind is bruin soos die wolke wat laag oor die kamp roer en draai. Dis asof die wind al die kieme en vuilgoed, al die latrinestanke en al die stowwerige trane opgesuig en bruin geword het. (Uit: Gezina en die Bruin Wind)

Ek het baie gewonder, die afgelope tyd. Ek het gewonder oor trane by die lees van jeugverhale. Moet ons ons kinders so-iets aandoen?

Moet ons hulle verskrik met ‘n Bruin Wind, met verhale van magteloosheid en siekte, van haat en mag? En ek het aan die storie van die Verlore Seun gedink. aan Tolkien se Lord of the Rings, aan die Ring. Hierdie stories het my lewe verander; hulle help my om te dink en te kies. En glo as ons nie genoeg nie-romantiese oorlogsverhale het nie, word ons - of ons nageslag-maar weer groot as een van Auden se soldate. Of as een van die troepe in Jacoba Afrikaner:

Soldate ken nie meer die woord liefde nie, ook nie hier by ons nie.

Niemand praat oor sy huis nie, niemand onthou sy ma se kos nie, nie anderkant die rivier nie, ook nie hier by ons nie. Slegs as die pos, die twee pakke smokes per seksie en die Cokes een keer elke drie weke aankom, roer ons ons pote soos goggas waarop daar getrap is, maar wat uit die bloute weer aan die kruip raak.

Vanoggend het die spoorsnyer ‘n spoor gekry; ons het hom in ‘n lang V-formasie gevolg. Toe ons ons kom kry, brand hulle op ons los.

Waarom sal ek julle van die toneel ná die kontak vertel, Pa? Herman en twee ander het vleiswonde; aan die vyand se kan was daar agt lyke en twee swaar gewondes; die ander het weggekom. Hulle was veertien, vyftien jaar oud, almal van hulle. Hulle het soos afgemaaide bokke in die sand en in die gras gelê, met weefsel en dik bloed teen die boomstamme, onder hulle liggame, in die graspolle.

Daar was so ontsettend baie bloed in die gras en in die sand.

Afrika het dit opgedrink, gulsig, totdat daar net vlekke oorgebly het.

Geen Puma-helikopters het ná die kontak kom opruim nie. Dit was dag; by Cuito Cuanavale is die lugruim bedags gevaarliker as snags.

Ek voel niks nie. Ons is hier en dis al. Al wat ek voel, is dat ek niks voel nie. Daar is ‘n onwerklikheid aan alles, asof ek nie meer in my liggaam leef nie. Tog is alles skerp soos die flitsende lem van ‘n skerp mes; ek sien enigiets wat roer; ek sien elke gebreekte tak, elke spoor.

Soos ‘n dier leef ek op instink; my oorlewingdrang laat my voortgaan.

Ek het die lyk van die grootste een, dié een wat waarskynlik die meeste sigarette aan hom sou hê, omgerol. Die laaste warm bloed het nog stadig uit die slagaar in sy keel gevloei, maar sy oë het reeds gebreek.

Ek het my hand in sy sak gesteek en sigarette gekry.

Ek rook hulle nou vlak onder die spinnekop se web. Wie gaan ek wees as die oorlog verby is, Pa?

Daar sit stukke van my in hierdie web vas. Die lewe wat in my was, sit in ‘n web wat nie my maaksel is nie, vas. Miskien het die rook my kop vandag ‘n paar minute lank oopgerook, soos ‘n bynes. Ek sit onder hierdie web en ek weet: ek leef nou net om die vyand te skiet. Ek is gebore om mense te skiet. Die spinnekop wag sy prooi in. Ek bekruip myne. As hy roer, skiet ek hom. Of dalk, as hy alleen is en sy wapen neergegooi het, vang ons hom en hang ons hom onderstebo aan ‘n boomtak op. As hy nie wil praat nie, gooi ons petrol oor hom uit en dreig ons om hom aan die brand te steek. Of ons dop hom om en buig hom dubbel en druk ‘n pyp in sy anus op, totdat hy uitskree wat ons wil weet. Maar party van hulle bly stil; dit is anders om húlle te skiet.

Ek het rook in my byenes, Pa. Is dit ál wat daardie mense is: vyand? As sy bene in die landmynontploffing afgeruk word, as daar ‘n gat in sy borskas geruk word, as ek sy arm afkap--- is dit ál wat daardie mens was-vyand?

Help my, Pa. Is daar net twee soorte mense: vyande en jou soort? As ek ooit weer by die huis kom, moet Pa en ek praat. Moenie skryf nie, ek sal in detensie beland. Moenie oor my worry nie, ek het só ver gehou. Maar nou het Pa die story of my life, dis ‘n opgefokte mess, voel dit vandag vir my. Moenie vir my in Pa se gewone brief skryf ek moet net op die Here vertrou nie. Ek maai mense af, ek steek mense aan die brand, as die Here dit as my groot opdrag beskou, wil ek nooit weer iets met Hom te doen hê nie. . ( Uit: Jacoba Afrikaner.)

Agter werklikheidsgetroue oorlogsboeke, weet 'n skrywer later, is daar 'n diep persoonlike keuse. Hoe sukkelend ook al, hoe onvolkome en fragmentaries ook al, as oorlogboekskrywer kies jy om die mensdom attent te maak op die slagvelde wat ook ná elke oorlog tot stand kom. Hierdie slagvelde sal in die huise, in die gemeenskap, in die gees en liggaam van elkeen wat deur oorlog geraak is of wat met 'n wapen in die hand rondgekruip het, wees. Soldate wat as wenners of verloorders heel of vermink van die slagveld af terugkeer, kan nooit weer dieselfde manne as tevore wees nie. Die reuk van bloed, die stuwing van adrenalien, skuld, onnoembare data in jou onderbewussyn, groot verlies en groot mag veroorsaak denksisteemmutasies. Die teruggekeerdes skep slagvelde tussen vier mure. Of hulle disintegreer in die innerlike oorlog wat selfs in vredestyd voortwoed.

Dis nie net vir opruk nie. Dis nie net vir aantrek, vir rat-packs laai en vir daardie laaste emosionele vashou van 'n geliefde nie. Die soldaat wat sy vrou of haar geliefde voor sy/haar vertrek vashou, kom as verminkte mens terug, hóé goed die teruggekeerde liggaam ook al lyk. Jy behou jou land nie deur oorlog nie. Jy verwoes gesinne, gemeenskappe en verhoudings. Jy verwoes nie slegs die dorpies van die vyand nie. Jy verwoes moraliteit, goedheid, die geloof in die goeie, onskuld. Jy verwoes die volgende generasie.

‘’Dis nie glamorous om ‘n soldaat te wees nie, Oom,’’ sê Douglas. ‘’‘n Ou raak bossies as jy binnekant… as jy …..as daar net gemors in jou kop is: derms en vlieë en bloed… vrouens wat skreeu… kleintjies wat dood in die sand lê. ’’

Was jy al bossies? wil Bas vir Douglas vra. Maar hy vra dit nie. Die Vader weet, hierdie een is iemand anders se kind. ( Uit: Jacoba Afrikaner.)

Elke kultuurgroep, elke volk, weet ek, sewentien jaar nadat Gezina en die Bruin Wind ontstaan het, het die reg en die verantwoordelikheid om oor sy oorloë, oor sy verliese -want oorwinning is dit nooit nie-te skryf. Elke volk moet deur die letterkunde, deur stories wat die ander kant van die verhaal vertel aan sy lesers vra: droom jy nog van sogenaamde oorlogsheldedade, of van ‘n ander soort oorwinning -dié van die rede?

Die één eis is egter dat ons, met iets so lewe-verwoestend, kultuurverwoestend , potensiaal-verwoestend, familieverwoestend, droomverwoestend, gees-vernietigend, groei-vernietigend, nageslag-vernietigend soos oorlog, "die storie sal vertel soos wat dit gebeur het."

Want, as dit nie vertel word soos wat dit gebeur het nie, as oorlog geromantiseer word deur die bloed die verlies, die dood en die vernedering te kyk en te skryf, beland die misleide in die volgende oorlog.

Met hierdie opdrag, hierdie dure verantwoordelikheid, worstel Gezina.

Toe het ek gewonder: sal ek alles onthou…altyd? Of sal dit wees soos daardie bruin wind wat deur die kamp loop en snuffel en wanneer die goeie reëns kom, weet jy nie dat hy daar was nie? Vergeet 'n mens later maar? Vergeet jy van Lena se windverwaaide graffie, so amper gelyk met die aarde? Vergeet 'n mens maar later van Philip le Roux se naam tussen die ou plantwortels? Die wind sal nog hier waai, maar ons sal nie meer hier wees nie. Die wind sal met sy ou paadjies loop en die plantwortels weer toemaak, sodat die sade ná die reën daar kan groei. En ons sal op die wa huis toe ry en later saggies begin sing, al die ou gesange van voor die oorlog….

Die mens, dink Gina terwyl Pappa bid, is soos die gras van die veld… as die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie…Vanoggend kan ek byna nie glo dis dieselfde Gezina wat jare en jare gelede 'n kampwag deur die gesig geklap het omdat hy met haar suster, Mattie, wou uitgaan nie. Ek kan nie glo dis die Gezina wat in die kamphospitaal gewerk en haar eie drome in die bruin wind gedroom het nie: hoe sy alles sou neerskryf… hoe sy die storie van die Afrikanerkidners in die konsentrasiekamp sou vertel soos wat dit gebeur het nie… (Uit: Gezina en die Bruin Wind.)

Daar is natuurlik ‘n enorme fout heel aan die einde van Gezina en die Bruin Wind. Wat uitwys hoe góú ons vergeet. Hoe maklik ons die bruin Wind as behorende tot die verlede klassifiseer. Dié boek is in 1985 geskryf, juis toe die Angolese Grensoorlog aan die gang was. Hoe kon ons dit miskyk?

"Hy (Oliver) is net die week hier, van die Grens af, " verduidelik Gina.

Ouma vra: "Is hy dan op kommando Gezina?"

''Ja, Ouma,'' sê Arthur self. ''Net nie meer te perd nie. Ons ry sommer in Ratels."

Ouma vra: "Hou dit dan nog altyd aan, my kind? Die oorlog, bedoel ek. Ek het dan gedink dis verby.''

"Dit is, sê Gezina magteloos. Ouma se oorlog is lankal verby, Ouma. Kyk Arthur veg nou saam met ons en oor ‘n paar jaar gaan Oliver ook. Dis nie meer dieselfde oorlog nie, nou staan ons saam, Ouma."

En net hier sneuwel die Bruin Wind so byna-byna. Want is Oliver en Arthur dan nie die generasie wat spoedig daarna in Jacoba Afrikaner begin figureer nie? Is hulle nie die jong manne wat selfs erger dinge as enigiets in die Anglo-Boereoorlog sou beleef nie?:

"Hennie sê daar was een jong outjie wie se hemp heeltemal deurtrek van die bloed was. Daardie outjie het Hennie se naam op sy hemp gesien en gesê: ‘’I’m dying, Pretorius. But I die proud. Please shoot me now.’’ Die bloed het by sy mond uitgeloop.

‘’Hennie sê hy is vasgekeer. Hy hoor die stem van daardie seun; hy slaap nooit sonder om nagmerries te kry nie. Hy is verskriklik aggressief, sê hy. Hy is bang vir homself. Maar of hy bly en of hy gly, hy kan nooit weer ontslae raak van alles wat in Afrika aangaan nie.

‘’Ek het vir hom gesê mens kan tog van die ergste ontslae raak. Ons lewens is verskriklik opgefok, want oorlog fok jou op. Ons moet maar begin praat. As jy praat, kom daar darem iets uit. Nie alles nie, maar iets. Hoe meer daar uitkom, hoe groter is die kans hopelik dat jy nie totally uitmekaar gaan val nie.

Oor die beleweniswêreld en die uitmekaarval van n seun soos Oliver of Arthur skakel Bas Pretorius, een van die hoofkarakters in Jacoba Afrikaner sy vrou.

Bas skakel vir Sasja en sy klink uitasem toe sy antwoord: ‘’ Het Douglas-‘’

‘’Hy het ‘n faks gestuur. ‘’

‘’En…?’’

‘’Oorlog is nie kinderspeletjies nie, Sasja.’’

‘’Vang dit hom weer?’’

Vang, dink Bas, is dalk die beste woordkeuse wat Sasja kon doen. En hy weet, so helder asof hy een keer in sy lewe uitgerus opgestaan en ‘n paar kilometer ver in op die skouer van die pad tussen Walvisbaai en Swakopmund fietsgery het, dat die mens alleen die bitterheid van sy eie gemoed ken en dat niemand anders voluit in sy vreugde kan deel nie.

‘’Dit het hom hierdie keer kwaai gevang,’’ sê Bas en sien deur die venster hoe sy jongste seun die handvervaardigde mossienes in die agterplaas in ‘n vlaag van oënskynlik irrasionele woede uitmekaarskop. (Uit: Jacoba Afrikaner.)

Ellen Key skryf: ''Everything, everything in war is barbaric … But the worst barbarity of war is that it forces men collectively to commit acts against which individually they would revolt with their whole being.'' --[War, Peace, and the Future (1916). In Jacoba Afrikaner betree Oliver en Arthur se generasie die terrein van kollektiewe gewetensverlies.Dit is Oiver en Arthur, die nageslag van hulle wat so byna-byna tussen 1899 en 1902 deur oorlog verwoes is, wat optrek om oorlog te gaan maak, om innerlik verwoes te word. Dit is oor die Olivers, die Arthurs en die Douglasse van 'n paar dekades later wat die groot vraagtekens hang :

‘’Is hy nou nie meer kuiermense nie?’’

‘’Hy is nie meer gewóne kuiermense nie.‘’

‘’Gaan hy en Rika dan trou?’’

Mag die hemel dit verhoed. Hy is flenters, binnekant, gebomskerf. Hy is uitgehol, ‘n moordenaar. Hy het met half-ontbinde lyke aan die modderskerms van sy Casspir deur die landjies van die plaaslike bevolking gejaag en met voertuig en al by ‘n huis ingebars. Hy het groot manne onder die water van die reëndamme ingedruk totdat hulle praat; hy het swart vrou en ‘n kind van nege verkrag.

Geen mens met verstand in sy kop sal sy dogter met ‘n man soos Douglas laat trou nie. Iewers moet daar ‘n Boerseun wees, later, baie later, as sy klaar geleer het. Iewers moet daar ‘n ordentlike jongman wees wat aan haar die stabiliteit en die geborgenheid ---

‘’Jy is seker bly oor die biltong wat ons gaan kry, Pa?’’

‘’Die biltong?’’

‘’Mamma het gesê Douglas se ma het gebel, hulle stuur vir julle ‘n pak biltong. Hulle het mos ‘n wildplaas.’’ (Uit: Jacoba Afrikaner.)

Hoe bruin was die wind? vra ons vandag. Dalk nog nie bruin genoeg nie. Dalk moet daar juis nóú nog meer Bruin Winde oor die velde opstaan, want vrede is broos en word deur één geweerskoot in oorlog omskep.

Hoe bruin was die Wind? Sy was nog net ‘n vae, eerste beduidenis.

Terug na: Lesings van die Anglo-Boere-oorlog in fiksie Konferensie

Terug na: Program van die Anglo-Boereoorlog in fiksie Konferensie

Back to: Programme of the Conference: The South African War in fiction

Back to: Papers delivered at the Conference: The South African War in fiction