Blind en moedswillig: Lank lewe sensuur! Maar langer lewe die skrywer!
|
Lesing gelewer deur Riana Scheepers by die konferensie: Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: Konferensie oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, 22 September 2003 Ek staan nie vandag hier as letterkundige nie, maar as skrywer van een enkele jeugboek. My relaas is derhalwe nie ‘n lesing wat baie biblioteek-ure en navorsing geverg het nie, maar soos dit ‘n skrywer betaam, is my praatjie ‘n storie: dit is ‘n liefdesverhaal, ‘n avontuur en ‘n riller - kompleet met skurke, helde, slagoffers en ‘n einde waar die goeie (hopelik) oor die bose sal seevier. My ondervinding met kinder- en jeugboeke was nog altyd dat dit die opwindendste genre in die uitgebreide spektrum van die letterkunde is. Hoe dan anders - my vroegste leeservaring was immers nie die intellektuele reis van die volwasse letterkunde nie, maar die wonderwêreld van kinder- en jeugboeke. My ondervinding met kinder- en jeugboekmense (die skrywers én die literatore), was tot onlangs nog ewe positief en onbelemmerd. Nog altyd het ek gedink dat mense wat by kinderboeke betrokke is, spesiaal is, dat hulle ‘n meer aanvaarbare weergawe van die vernielsugtige en boosaardige mensdom is. Dit was my ondervinding en oortuiging: tot die dag dat ek self amptelik jeugboekskrywer geword het. Ek dink dit is op rekord dat ek verskeie kere in die openbaar gesê het dat dit vir my ‘n fantastiese ervaring was om ‘n jeugboek te skryf. Ek het lank geloop met die gedagte om ‘n "outydse" jeugboek te skryf: "outyds" in die sin dat dit nie ‘n boek is wat sou gaan oor moderne sosiale probleme soos anoreksia of veneriese siektes, seksisme of rassisme nie; outyds, óók, omdat dit nié sou gaan oor die diverse ekstases wat die moderne jongelinge kry uit punch, pille of parties nie. Ek wou ‘n boek skryf oor avontuur en vreugde, oor vriendskap en onnutsigheid. En kindwees. Ek het op ‘n dag gaan sit, ‘n groot pot rooibostee gemaak … en 5 dae later was Blinde Sambok klaar. Dit was harde werk, maar dit was enorm bevredigend. My jeugboek was my eie persoonlike liefdesverhaal, tot vandag toe is ek verlief op my boek. My twee karakters, Gideonette, die meisie wat eintlik ‘n seun moes wees, en haar boesemvriend, Bhubesi, is direk uit ‘n outobiografiese lewe gehaal en tot literatuur omvorm. Toe die boek verskyn het, was ek verstom oor die reaksie. As literêre skrywer is ek gewoond aan die kreatiewe bitsigheid van resensente en ander gefnuikte literatore, maar sowaar, sowaar, vir dié eenvoudige, "outydse" boekie het ek nie één venynige of negatiewe resensie gekry nie, alleenlik gloeiende getuigskrifte. Van heinde en verre het lesers my vertel hoeveel plesier hulle aan Blinde sambok gehad het: lesers van so oud as 7-8 jaar tot so jonk as 70-80 jaar. (Die enigste suur opmerking het gekom van ‘n gay resensent wat dit betreur het dat al die seuns van Paul Roos Gimnasium [waar ek toe skoolgehou het] – op my verlief is …) Ek was van vooraf daarvan oortuig dat die kinderboek-wêreld ‘n literêre utopia van soetheid en genade is. Maar toe, dames en here, kry ek te doen met ‘n soort krokodil in die soet drinkwater van my lewe waarvan ek nie voorheen bewus nie: uitgewers. Meer spesifiek: uitgewers wat hul siele verkoop het aan die voorskryfmark en waansinnig poog om bloemlesings verhale voorgeskryf te kry. Op ‘n dag kontak ‘n persoon van ‘n uitgewery my en vra of ek ‘n verhaal sal voorlê vir ‘n bundel wat gerig is op die skolemark. Sy gee ‘n paar riglyne, sê dat dit gaaf sal wees as hierdie verhaal die lieflikhede van ons nuwe, vrygeworstelde Suid-Afrika weerspieël, as natuurbewaring of ander loflikhede soos vriendskap en positiewe verhoudings ter sprake kom. Sy beklemtoon dat dit nie voorskrifte is nie, want die skrywers moet tog nie voel dat hulle onder sensuur leef nie … Ek, wat op my ouderdom self ‘n vrygeworstelde skrywer van post apartheid Suid-Afrika is, wat die sensuur van ‘n apartheidsregime, die cultural desk, die kulturele - én akademiese boikot aan my lyf beleef en oorleef het, dink nie eens verder nie. Want watter skrywer van die opwindende nuwe Suid-Afrika wil herinner word aan die banvloek van sensuur? Ek blaai deur my aantekeninge en los pampiere en kom af op ‘n passasie wat bestem was vir Blinde sambok, maar om een of ander rede nooit daar uitgekom het nie. (Onthou, ek het 5 dae feitlik deurnag sonder slaap of eet geskryf… iets moes verlore gaan!) En ek voltooi die verhaal. Gideonette en Bhubesi is op ‘n dag bitterlik lus om ‘n vleisie in die bos te gaan braai. Hulle skaai ‘n stukkie wors en ‘n boksie vuurhoutjies en sluip weg. Hulle kom bitter gou agter dat mens nie eintlik kan vleis braai met nét ‘n boksie vuurhoutjies en ‘n rooster nie. In die proses steek hulle amper die bos aan die brand. In die kommosie wat ontstaan om die vlamme te blus, val die rooster op Gideonette se been en sny dit oop. Bhubesi is die held in die verhaal en kom tot hul redding: hy blus die vuur, tel Gideonette op sy rug en dra haar huis toe. Hulle leer ‘n paar lesse: jy speel nie met vuur nie, nooit nie, en as die kak spat, staan jy saam. Ek stuur die storie in, wag ‘n paar maande, maar kry geen reaksie nie. Toe ek weer op ‘n dag onthou van die verhaal, doen ek per e-pos navraag. Die antwoord kom terug, en ek haal verbatim aan: Jammer ek het so lank geneem om na jou toe terug te kom hiermee. Ek hou vreeslik baie daarvan: ek dink die karakters is outentiek, daar's 'n lekker humorsin wat deurkom, die tema is gepas as opvoedkundige teks (sonder om pedanties te wees), daar's drama ... tog sal ek dit nie kan gebruik nie. Jammer, maar die wit/swart verhouding in die storie dra nie by tot nasiebou nie. Indien jy dalk 'n polities-korrekte storie het van min of meer dieselfde lengte het, kan jy dit gerus aanstuur. Ek het regtig eers gedink dit is ‘n grappie – totdat ek besef het, nee, die meisiekind beskuldig my - in alle erns - en met die groot wysheid wat sy in pag het, van rassisme. Dit WAS sekerlik vir my moontlik, om ter wille van die paar rand wat ek met dié storie sou verdien het, sekere aanpassings te maak. Ek KON Bhubesi ‘n gemene, gemaksugtige, aaklige, wit seuntjie gemaak het. Ek KON vir Gideonette ‘n sweet swart engeltjie gemaak het, ek KON só ‘n politiese-korrekte verhaal geskryf het dat jy daarvan kon swymel – of naarword - maar ek het besluit: EK SAL NIE. Want ek was drie jaar lank onderwyser in ‘n normale, veelrassige skool waar die kinders (swart en wit) argeloos deur hul voorgeskrewe werke blaai, waar elke greintjie leeslus uit hulle gepers word – solank as wat ons maar net die illusie van politieke korrektheid handhaaf. Ek het gesien hoe die straatwys manne van Paul Roos lág, en ‘n parodie maak van hulle voorgeskrewe teks wat gaan oor die onverdrote vriendskap tussen ‘n rugbykaptein, ‘n beeldskone blonde meisie, ‘n vegetariese Moslemseuntjie en die boef in die verhaal: ‘n skurkagtige klein AWB-mannetjie. Polities korrek, ja, maar ongeloofwaardig en on-inspirerend. Ons kinders het nie respek vir hul voorgeskrewe literatuur nie. Soos die noodlot dit wou hê, is die beskuldiging dat ek ‘n rassistiese en onwaardige burger van my mooi land is, skaars koud, toe kry ek die blye tyding dat Blinde sambok die ATKV-kinderboekprys verower het in die kategorie 10-12 jaar. Vir diegene wat dit dalk nie weet nie: dié wonderlike prys (met feitlik geen geldwaarde nie!) word deur KINDERS toegeken. Kinders, soos wat die jeugboekskrywer (en self pryswenner) Leon de Villiers tereg gesê het, wat vere voel vir die skrywer, maar omgee vir ‘n goeie verhaal. Die volgende ding wat gebeur, is dat die boek voorgeskryf word vir die Wes-Kaapse skole. Vir Afrikaans 2de taal leerlinge, nogal – dus, ook vir swart kinders. Ek dink almal wéét hoe die paneel van die voorskryfkomitee lyk, en sowaar, niemand daar vind my boek rassisties nie. ‘n Derde wonderlike ding gebeur met Blinde sambok: dit word aanvaar vir vertaling in Nederlands. As daar nou één taalgemeenskap is wat heilig sensitief is teenoor rassimes en ander politieke onregte, is dit juis die Nederlandse spraakgemeenskap – en hierdie uitgewers vind dit goed genoeg om my roman los te laat op die arme onskuldige klein Kaaskoppies van die Lae Lande. Verskriklik. Vir ‘n wyle het ek gedink, sal ek nie die uitgewer bel en haar hierdie dinge vertel nie? Toe dag ek: laat maar, laat maar … want hoe voer mens ‘n gesprek met ‘n uitgewer wat die sensitiwiteit van ‘n Grimm-reus het, die allure van almagtigheid – en met die sewemyl-laarse van politieke selfregverdiging dwarsoor ‘n brose skrywer loop? Ek skryf wel ‘n brief aan die uitgewer waarin ek beswaar maak teen haar kortsigtige (en miskien jeugdige) oordeel. Ek skryf, en ek haal verbatim aan: My verhaal gaan oor vriendskap, nié oor politiek nie. Enige iemand wat dit nie raaksien nie, is blind en moedswillig. As die swart seuntjie wit was, sê maar die bure se kind, was daar geen probleem met hierdie verhaal nie. Ek is egter nie bereid om die storie te manipuleer nie, want as dit 2 wit kinders was, of 2 swart kinders, het die kosbare skat van vriendskap en saamstaan-deur-dik-en-dun oor kleurgrense heen, dit wat ons ten alle koste in hierdie stukkende land wil promoveer, verlore gegaan. Hierdie keer wag ek nie ‘n paar maande voordat ek ‘n antwoord kry nie: sy skryf terug en sê. En wat sy sê, laat my tot nou toe sidder: Ek haal aan: Dit is juis as gevolg van die outentisiteit van die storie dat dit tien teen een fel kritiek van die keurders sal kry. Dames en here, Wat staan ‘n skrywer te doen as hy met hierdie Neanderthal-redenasie te doen kry? Wat maak ons skrywers met die voorskriftelikheid om ‘n werklikheid voor te stel wat so ver verwyderd van die werklikheid is as ‘n feëverhaal van ‘n voorbladberig oor ‘n verkragting? Wat maak mens met riglyne wat direk weersprekend is? Wat hulle gevra het, is die volgende: en ek haal direk aan: Boeiende verhale wat breedweg die kritieke uitkomste in gedagte hou maar nooit ten koste van die outentieke leeservaring nie. Die tekste kan prettig en subversief wees, mag nooit prekerig wees nie en moet spreek tot kinders soos hulle werklik is - nie soos volwassenes of kurrikulumskrywers wil hê hulle moet wees nie. Boeke wat kinders se hart raak …. Wat hulle inderwaarheid hier sê, is die volgende: " Beskryf asseblief ons Suid-Afrikaanse werklikheid, maar asseblief, moet net nie dat dit outentiek voorkom nie!" Hierdie stuk persoonlike geskiedenis vorm die basis van my betoog. Ek is glad nie van plan om verskoning te vra vir die liddorings waarop ek trap nie; ek is ook glad nie van plan om my integriteit as skrywer in te boet vir ‘n paar misrabele silwerlinge, of die voortbestaan van die uitgewers in hierdie land nie. U kan wel dink dat ek reageer soos ‘n skrywer met ‘n afgetrapte ego omdat my storie afgewys is: nee wat, daarvoor het ek genoeg positiewe terugvoering gekry oor my boek. Ek is nou ook in die geselskap van die Grotes wat dieselfde paadjie as ek moes stap: Nadine Gordimer, Breyten Breytenbach en ander skrywers wat veel groter prominensie as ek in die wêreldliteratuur het, moes al hier ter lande swig voor die almag van die uitgewer van skoolboeke. Uiteindelik gaan dit nie oor een skrywer se innige, seer gemoedjie nie, maar oor die euwel van sensuur wat groot en lelik en produktief voortleef in ons literatuursisteem. Al gebeur dit onder ‘n ander naam en onder die beste van voorwendsels. Wat my onrustig laat slaap, is dat dit so uiters, uiters effektief toegepas word op ‘n kritiese gebied: die kinder- en jeugboek. Ek is beslis nie so naiëf om te dink dat hierdie probleem iets van die afgelope paar jaar is nie. Dit wat ek beleef het, is al meermale ondervind, ook in die goeie ou uitgewersdae toe uitgewers op die blink vosperd van voorspoed gery het. Breytenbach, wat sy ouers liefdevol "Ounooi en Oubaas" genoem het, is daarvan beskuldig dat hy revolusie sou saai, Bartho Smit van rassime, selfs die arme "Ampie" van Jochem van Bruggen is beskuldig van vuige literatuur. Sal dit nooit einde kry nie? Ek dink julle ken my en my politieke agtergrond goed genoeg om te weet dat ek nie een oomblik rassisme, seksisme of diskriminasie van enige aard ooit sal goedpraat of goed-skryf nie. Ek weet nie of daar EEN skrywer in Afrikaans is wat dit sál doen nie! Juis daarom dink ek eerlikwaar dat uitgewers in opvoedkundige posisies ons skrywers maar kan vertrou; skrywers is immers nie ‘n spul losgeslane, daggarokende, sielkundig-afwykende dissidente nie. (Of ten minste, nie álmal nie.) Maar dit gebeur eenvoudig nié. Ek is van mening dat dit die uitgewer in ‘n beskaafde en gesofistikeerde beskawing se plig is om aan ons jeug verhale te gee wat méér is as net voorskriftelik "polities korrek". Of het ons in ons tien jaar van demokrasie, bevryding en die mees progressiewe grondwet ter wêreld, op artisitieke terrein nog NIKS gevorder nie? André Brink het tydens die hoogty van amptelike sensuur, in 1978, tydens ‘n Skrywersgildebraad gesê: "… sensuur as sodanig is bloot ‘n simptoom, nie die siekte self nie: ‘n Pitsweer op die sitvlak van die volk. Die siekte self, die ding wat die skrywer essensieel bedreig, lê in die bepaalde bestel: … ‘n bestel wat die Leuen bestendig bo die waarheid, …en uiteindelik, mag bo moraliteit…" (Skrywersgildeberaad, Maselspoort, 1978). Is dit die skrywer se voordurende, uitputtende en artistiek-uitmergelende taak om altyd, altyd maar teen die "bestel" in opstand te kom? Ons is reeds in die 21 ste eeu, steeds só bang en só korrek dat ons iemand aanstoot sal gee, en sonder om in ag te neem dat die resultaat van ons fobies futlose verhale is wat almal (veral die volwassenes) pseudo-tevrede stel, maar geen kind ooit ontroer, raak en verál verwonder nie. Ons kweek met groot selfvoldoening ‘n generasie jong lesers wat nonchalant die skouers oor die lewe en die literatuur sal optrek en sê: "so what?" Ek wil ‘n opregte en ernstige (maar sekerlik ‘n futiele) pleidooi aan ons uitgewers rig: dat julle wat aan ons jeug verhale moet uitgee, die insig en die moed aan die dag moet lê om vir ons jong lesers verhale van waarde te gee, verhale sonder snedige of venynigheid teen ander groepe (van watter aard ookal), maar veral verhale wat waaragtig eerlik en gerig op die goeie storie is. Hoe doen ons dit? My versugting is vir ‘n jeugletterkunde met integriteit, een wat alles kan hanteer: elke enkele horror van ons tyd, en elke vlinderige stilte van innigheid. Want die argument bly steeds: goeie literatuur het die vermoë om op te lig, helend in te werk, booshede van die verlede en die hede te besweer, al gaan die tema oor iets skrikwekkends soos die oorlog of rassisme of die dood. Of selfs iets so "verskriklik" soos die vriendskap tussen ‘n swart seuntjie en ‘n wit dogtertjie. Ek is nie die eerste skrywer wat in opstand kom teenoor sensuur nie. Ek sal nie die laaste een wees nie. Ek is egter nie moedeloos óf gekortwiek nie. Want as daar een ding is wat vas en seker staan, dan is dit dat goeie literatuur die wonderbaarlike vermoë het om te oorleef. Wanneer die uitgewershuise oor en verby is, of van naam en eienaar verander het, wanneer die eens magtige uitgewers geriatries in die sonnetjie van outehuis-stoepe sit en wag vir die teeklokkie om te lui, wanneer selfs die skrywers dood en gedaan is, dán leef die ware kunswerk voort, met die asem van ‘n feniks en die darteling van die jeug. Laat sensuur dus maar lewe, die skrywer is moedswillig, hy oorleef dit wel! Natuurlik het my storie ‘n einde. Kort nadat ek hierdie lesing in konsep-vorm voorgelê het, het ek berig van ‘n ander uitgewer gekry dat hulle my verhaal opneem in ‘n bundel. Dié betrokke uitgewer – wat ewe gebonde is aan die voorskryfmark se voorskrifte as die eerste – is baie opgewonde. "Ons het 160 verhale ontvang vir oorweging, joune is een van 12 wat goegekeur is." Ek slaan dankbaar my hande saam: juig beendere juig: ek is nie meer ‘n rassis nie!
|