Die Stand van Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur in Kwazulu-Natal

Lesing gelewer deur Jakobi Greyling, Kwazulu-Natal Library Services by die konferensie: Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: Konferensie oor Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, 22 September 2003

 ‘n Mens is geneig om die aanname te maak dat Afrikaans nie sterk staan in KZN nie. Alhoewel Zoeloe en Engels die oorheersende tale in hierdie provinsie is, is daar tog meer Afrikaanssprekendes as wat ‘n mens besef. Volgens die jongste statistieke (Sensus 2001) is daar 140 831 Afrikaanssprekendes in KZN en dit sluit alle bevolkingsgroepe in. Meeste Afrikaanssprekendes is gekonsentreer in die noorde van die provinsie (soos Newcastle, Ladysmith en Dundee) en Zoeloeland (soos Richardsbaai en Empangeni). In die Ethekwini Munisipaliteit (dit is Durban en omliggende gebiede) is daar ook heelwat Afrikaanssprekendes, veral in Pinetown, Malvern en Amanzimtoti. En selfs in gebiede waar Afrikaans mense se tweede en derde taal is, is daar ‘n belangstelling in Afrikaanse kinder- en jeugboeke.

Na aanleiding van laasgenoemde feite kan ‘n mens die aanname maak dat Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur intensief in openbare biblioteke gebruik word. Aangesien statistieke wat maandeliks deur biblioteke ingedien word, nie die werklike stand van sake weerspieël nie, het ek ‘n kort vraelys saamgestel ten einde vas te stel hoe hierdie literatuur in biblioteke gebruik word. Sekere teiken-biblioteke is geïdentifiseer en die vraelys is aan hulle gestuur. Die resultate wat ek teruggekry het, het ‘n paar interessante feite aan die lig gebring, wat ek vervolgens kortliks sal bespreek.

Eerstens. Vertaalde werke word meer uitgeneem as oorspronklike werke. Outeurs wat gewild is, is R.L. Stine, J.K. Rowling Enid Blyton en Roald Dahl. Redes wat hiervoor aangevoer is, is dat vertaalde werke meer aantreklik is as oorspronklike werke, dat dit makliker lees en die illustrasies in vertaalde prenteboeke beter is as dié in oorspronklike Afrikaanse prenteboeke. Tog is daar biblioteke wat gesê het dat kinders enigiets sal lees wat beskikbaar is, maak nie saak of dit vertaal is, of nie.

Dit is veral boeke wat in ‘n reeks is, wat gewild is - in oorspronklike sowel as vertaalde werke. Die rede hiervoor is dat kinders van die aksie, spanning en kontinuïteit in reekse hou, asook die feit dat hulle met die karakters kan assosieer. ‘n Goeie voorbeeld van so ‘n reeks is Klub 17. Ander reekse, waarvan die verskillende boeke op hul eie kan staan, is Reënboogrant, Eerste Liefde, Monstermaan, Rillers, Projek X, Internet Onbeperk en Kansvatters (almal oorspronklike Afrikaanse reekse), sowel as Disney, Ladybird, Grillers, Barbie, Kuifie, Asterix, Knikkie en Miesiemuis (vertaalde reekse).

Alhoewel kinders boeke wat in ‘n reeks verskyn het, verkies, is daar tog sekere Afrikaanse skrywers wie se individuele werke gewild is.En daarom het ek juis in die vraelys ook gevra watter Afrikaanse skrywers gewild is. Dié lys is lank en gevarieerd - van gevestigde skrywers tot skrywers wat eers die laaste paar jaar bekendheid verwerf het: Maretha Maartens; Janie Oosthuysen (veral haar "Ouma Hester" boeke); Henning Paulsen (reeds genoem); Francois Bloemhof (reeds genoem); Louise van Niekerk.; Solet Scheerers; P.J. du Plessis; Jaco Jacobs; Heila Fourie; Martie Preller; Marianna Brandt; Marzanne le Roux-van der Boon; Vincent Swart; Carina Diedericks-Hugo; Elsabé Steenberg; John Coetzee; Pieter Pieterse; Tertia Botha; Jonita Swart; Marietjie van Rooyen. Anne-Marie Conradie en Lize Odendal is ook genoem, maar beide skrywers het net, sover my kennis strek, een roman vir tieners die lig laat sien. Conradie se roman is getiteld "Tippex dit uit". Odendal is meer ‘n skrywer van volwasse liefdesverhale, maar een van haar romans, Sune, is ‘n roman vir tieners.

‘n Ander feit wat uit die vraelys na vore gekom het, is dat pryswenners nie baie gewild is nie. Dit word meer gelees wanneer dit ‘n voorgeskrewe werk is of wanneer die boek uitgestal word. Daar is wel ‘n positiewe kant aan hierdie saak, en dit is dat sekere biblioteke genoem het dat daar tog kinders is wat graag beter Afrikaanse boeke wil lees, met ander woorde dit hang van hulle leessmaak af. Uit die vraelys het dit ook geblyk dat dit afhang van die tema van die boek, en indien dit aanklank vind, sal dit uitgeneem word en gevolglik gewild wees.

Die laaste vraag wat ek in die vraelys gevra het, was of daar enige leemtes is wat Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur betref. Die antwoord op hierdie vraag was eenparig "ja". Soos een biblioteek dit gestel het: "daar is tog baie huisgesinne wat verkies om Afrikaans te lees en te praat" (Glencoe).

Dit blyk dat daar ‘n behoefte aan veral nuwe moderne Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur bestaan, veral vir tienerseuns.Inhoud is belangrik. Kinders wil verhale hê waarmee hulle kan identifiseer, soos sport, rekenaars en "vandag se lewe", met ander woorde verhale moet tred hou met wat "in" ("cool") is by kinders. Hulle wil nie verhale lees wat ‘n "les" of "sedepreek" bevat nie, en dit moenie een of ander krisis in die gesinslewe beskryf nie. Daar is ook genoem dat daar ‘n aanvraag aan meer fantasieverhale (soos dié van J.K. Rowling en Eoin Colfer"), wetenskapsfiksie, spanningsverhale, avontuurverhale, liefdesverhale, rillers en selfs nie-fiksie vir kinders is.

Verder verkies kinders slapbandboeke bo hardebandboeke, boeke met aantreklike buiteblaaie en boeke wat maklik lees. ‘n Belangrike punt wat deur talle van die biblioteke genoem is, is dat solank die buiteblad aantreklik is en die inhoud modern en relevant is, sal kinders daardie boeke uitneem. In die geval van prenteboeke speel illustrasies ‘n belangrike rol. Dit moet aantreklik wees, nie abstrak nie en helder kleure moet gebruik word.

Om dit saam te vat. Dit blyk dat daar ‘n lewendige belangstelling in Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur in KwaZulu-Natal is. En daarom wil ek enigiemand wat hier teenwoordig is en wat direk daardeur geraak word, hetsy u ‘n skrywer, illustreerder of uitgewer is, aanmoedig om ag te slaan op wat kinders se behoeftes is en daaraan aandag te skenk. Ten slot van sake wil ons graag hê ons kinders moet ‘n leeskultuur ontwikkel wanneer hulle jonk is, sodat hulle in hul latere jare nog steeds Afrikaans sal bly lees.

 

Terug na Konferensie: Van Patrys-hulle na Hanna Hoekom
Terug na Artikels en bydraes
Terug na Afrikaanse Kinderliteratuur